Bosveld NewsNews

Oom Ted (87) swem 25dste Midmarmyl

Oom Ted, ‘n inwoner van die Kareewoonstelle by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis, het ook vanaf 14 tot 16 Maart aan die Suid- Afrikaanse Swem Vereniging se Meesterswemkompetisie in die Hillcrest Swembad in Pretoria deelgeneem.

MOKOPANE – Om op die ouderdom van 87 nog die Midmarmyl te kan swem wil gedoen wees.

Oom Ted Beukes was vanjaar weer in die water en loop met rede breëbors rond. Hy wys die sertifikaat wat hy ontvang het vir sy 25ste Midmarmyl en al die ander medaljes.

Lees ook: Hulle troef Midmar

Oom Ted, ‘n inwoner van die Kareewoonstelle by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis, het ook vanaf 14 tot 16 Maart aan die Suid- Afrikaanse Swem Vereniging se Meesterswemkompetisie in die Hillcrest Swembad in Pretoria deelgeneem.

Hier was hy in sy ouderdomsgroep ‘n toppresteerder in verskeie items en verower vier eerste-, twee tweede en een derde plek. Een van die eerste plekke wat verower is, was as deel van sy aflosspan.
Hy vertel dat langafstand-swem nader aan sy hart lê as kortafstande.

“Jy kan vir enigeen wat ook die Midmarmylswem vra, dit is nie so maklik nie. Al wat in my kop aangaan as ek daar in die water vasgevang is, is waarom doen ek dit? Hoe nader ek aan die einde kom, hoe moeër raak ek. Wanneer die 800 m punt nader kom en ek my kop by die water uitsteek dan voel die meters wat ek moet aflê al hoe verder na die eindpunt toe. Al wat dit die moeite werd maak op daardie oomblik, is om klaar te maak en te weet jy het nog ‘n myl afgelê. Ek sal solank ek kan, deelneem.”

Oom Ted vertel hy oefen ten minste drie keer ‘n week in ‘n steengroefgat by Moorddrift saam met sy vriend en oefenmaat, Stef de Lange.

“Ek swem gewoonlik vroegoggend. Dit is nie net ‘n manier vir my om fiks te bly nie, maar dit hou my kop skoon. Ek geniet dit baie omdat ek nie sommer iemand is wat kan stilsit nie. Ek glo dat ek nie by ‘n ouetehuis bly nie, maar by ‘n aftree-oord.”

Benewens swem speel hy ook gereeld rolbal.

Die fikse bejaarde het in Belfast grootgeword saam met twee broers en een suster. Hy het homself later in Pretoria gevestig waar hy as tandarts bekend was tot in 2007 voordat hy na Mokopane verhuis het. Hier is hy met Mart getroud. Hy is ook ‘n trotse pa van vier kinders uit ‘n vorige huwelik.

“Ek het my werk geniet. Dit was my passie om deel te wees van die mediese wêreld, maar ek sou eerder graag meer wou doen as net met tande werk. Ek hou daarvan om met my hande te werk.”

Hy het op die rype ouderdom van 61 besluit dat sy gesondheid van kardinale belang is en by fiksheidsklasse aangesluit.

“Ek sal nie sê dat ek die tipiese fikse seun of jong man was jare gelede nie. Ek het maar hier en daar rugby gespeel of sport gedoen. Tydens die oefenklasse het ek het iets van alles gedoen, maar my knieë het later begin pla en ek moes ‘n alternatiewe oefening kry. Dit is toe ek begin swem het.”

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button