‘Wees gereed as jy aangeval word’

Vir Kalah-instrukteur en eienaar van die Kanniedood Gastehuis, Marli Swanepoel, is plaasaanvalle 'n werklikheid en sy wil soveel mense as moontlik daarop voorberei.

MOKOPANE – Wanneer Swanepoel oor plaasaanvalle en aanvalle oor die algemeen praat raak sy baie emosioneel.

“Daar is elke dag ‘n aanval iewers in Suid-Afrika en mense weet nie wat om te doen in só ‘n situasie nie. Ek is self ‘n plaaseienaar en bedryf ‘n gastehuis op ons plaas. Ek het besluit dit sal nie met my of my gaste gebeur nie en het iets daaromtrent gedoen.”

Marli Swanepoel (Kalah-instrukteur) en Clayton van den Berg (Kalah-instrukteur) demonstreer hoe om ‘n pistool by ‘n aanvaller af te neem.

Swanepoel vertel sy wil soveel moontlik mense oplei om aanvallers te kan teenstaan en om terug te baklei. “Dit maak nie saak in watter situasie jy jouself bevind nie, jy moet gereed wees en nie bang nie.”

Ina Rochat leer hoe om ‘n gewapende aanvaller teen te staan. Haar man, Gordon, speel die aanvaller.

Swanepoel het in Oktober verlede jaar vir haar eerste opleiding gegaan en daarna nog twee opleidingsessies gehad. In Mei sal sy haar vierde Kalah-opleiding kry. “Kalah is nie choreografiese bewegings tussen twee mense wat ingeoefen word sonder enige element van verrassing nie. Ons glo om geweld te ervaar en te oorleef, moet jou opleiding so naby aan die werklikheid wees as wat dit veilig is. Met die ontwikkeling wat gekoppel is aan die mees aktiewe gevegseenhede van die Israeliese gewapende magte, is dit maklik om Kalah se ongelooflike direkte kontakgeveg te verstaan. As ‘n stelsel word dit gekenmerk deur sy plofbare aard, met oorweldigende aggressie en verrassing om die aanvallers op die mees doeltreffende manier te onderdruk.”

Clayton van den Berg (Kalah-instrukteur) die aanvaller en Marli Swanepoel (Kalah-instrukteur) die slagoffer wys vir die studente hoe om ‘n aanval af te weer.

Volgens Swanepoel is opleiding moeilik en word studente blootgestel aan wêreldklastegnieke. “Studente word ook opgelei om die vrees vir geweld self te verstaan en uiteindelik te hanteer.”

Swanepoel sê die wat in opleiding belangstel kan haar by 060 720 9555 kontak. “Ek bied elke Saterdagoggend en -middag klas en vir my gaan dit nie om geld nie maar om soveel moontlik mense op te lei.

“Clayton van den Berg, ook ‘n Kalah-instrukteur en boer van die Vaalwateromgewing, kom sit ook gereeld hand by wanneer nodig.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version