Krokvrou nét betyds, sê plastiese sjirurg

So vertel dr. Lloyd Chokoe, 'n plastiese sjirurg wat verlede Donderdag op Lana Steyn moes opereer nadat sy vroeër die dag deur 'n krokodil aangeval is.

POLOKWANE – Dit was ‘n kwessie van tyd en sy was betyds.

So vertel dr. Lloyd Chokoe, ‘n plastiese sjirurg wat verlede Donderdag op Lana Steyn moes opereer nadat sy vroeër die dag deur ‘n krokodil aangeval is.

Lees meer: Local teacher survives Crocodile attack

Haar linkerhand het sleg seergekry in dié aanval.

Volgens dr. Chokoe was Lana en haar vriend, Mike van der Merwe, binne drie uur na die aanval by die hospitaal, wat vermoedelik gesorg het dat sy nie haar hele hand sou verloor nie.

Infeksie kompliseer gewoonlike sake indien ‘n slagoffer langer as ses ure neem om by mediese hulp uit te kom, sê hy.

Lana, ‘n onderwyser by Akademie Reformia, en Mike het by Pontdrift op die Botswana-grens kampeer en het gaan visvang toe die noodlot tref.

“Ons albei is groot voëlliefhebbers en sou aanvanklik slegs gegaan het om voëls te kyk. As ons maar net meer af, as op gekyk het, sou dinge dalk anders gewees het vandag. Ek sou nooit kon raai dat dié wegbreek in ‘n nagmerrie sou verander nie.”

Lana vertel hoe hulle op die dag afgestap het rivier toe, sowat 200 m vanaf die kampterrein.

“Ek het byna dadelik twee visse gevang. Die derde een was egter klein, en ek moes strek om dit vry te laat in die water. Dis toé dat die krokodil my aan die hand gryp en in die water intrek.”

Mike, ‘n voormalige natuurbewaarder, het oombliklik reageer deur agter die dier aan in die water in te duik.

Hy vertel hoe hy die krokodil om die lyf beetgekry, en probeer afstoei het.

“Ek het gevoel die water is redelik vlak, en het Lana aangepor sodat ons na die wal se kant kon draai.”

Tussendeur die gestoei was die dier se bek in ‘n stadium reg voor Mike en kon hy daarin slaag om sy vinger in die krokodil se oog te druk.

Dit het gemaak dat die dier sy kake oopgemaak het, en weggeswem het.

“Dit alles het waarskynlik binne ‘n minuut gebeur, maar dit het soos ‘n ewigheid gevoel,” vertel hy.

“Ek kan onthou hoe Lana alles probeer het om uit die water te kom, en ek onthou hoe die dier gevoel het. Sy neus was hard en knobbelrig, en die res van sy lyf voel soos harde leer of rubber.”

Mike het, nadat die krokodil weg was, Lana se wond aan haar hand afgespoel en met ‘n T-hemp toegedraai.

“Ek onthou ek het op pad terug kampterrein toe op ‘n plaaswerker afgekom en hom vertel dat ‘n krokodil my beetgekry het. Hy kon sy ore nie glo nie!” vertal Lana. Dié werker het hulp ingewin en die wond is weer skoongemaak terwyl Mike hul goed opgepak het.

Oppad na Polokwane het Lana haar hand in ‘n ysgevulde plastieksak gehou.

“Ek het geweet ek sal moet wakker bly om vir die dokter te sê dat ek ‘n komplikasie in my lugweg het en dus nie normale narkose sou kon kry nie. Dis toé dat ek boodskappe aan my familie begin stuur het.”

Danksy haar swaer, André Bakker, se reëlings vooraf was alles reeds gereed by Mediclinic Limpopo. Terwyl die teaters almal beset was, is die wond solank ontsmet en het sy pynmedikasie ontvang.

Dr. Chokoe meen dit was ‘n “verskriklike” wond.

“Ek moes ‘n liesflap inplant om die bloedtoevoer na haar hand te herstel, en die weefsel te laat heg. Dit sal vir drie weke so bly, en afhangend of die hand herstel, sal dit losgemaak word en kan die rekonstruksieproses begin,” het hy aan Review gesê.

“Haar duim, wysvinger en middelvinger moes amputeer word, maar volgens Chokoe kan ‘n duim herbou word en danksy min komplikasies sal sy darem gedeeltelike gebruik van ‘n hand hê.

Lana meen sy het haar lewe aan Mike te danke, “as dit nie vir sy vinnige optrede was nie, sou dit my einde gewees het”.

Familie en vriende het intussen vir haar ‘n trust gestig vir die mediese uitgawes aangesien sy nie lid is van ‘n mediese fonds nie.

Hier is die besonderhede as jy wil bydra:

Kobus Coetsee Attorneys -Trust

First National Bank

Rekeningnommer: 62099506225

Takkode:260-226

Verwysing: N00020 – Lana Steyn

reporter03@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version