Tiener beseer toe boef foon wou stel

'n Tienermeisie het verlede Donderdag erge beserings aan haar oor en elmboog opgedoen toe 'n selfoondief haar in haar ouma se motor aangeval het.

MOKOPANE – Johannie Jooste vertel sy het saam met haar dogter, Al-Lanie (14), in haar ma se motor gery toe ‘n selfoondief haar kind se deur oopgepluk het by die verkeerslig op die hoek van Thabo Mbeki en Nelson Mandelarylaan.

Al-Lanie het ‘n lang sny aan haar oor opgedoen tydens ‘n stoeiery met ‘n selfoondief.

“Ek het gou ‘n laaste paar goedjies gehad om te doen voor ons met vakansie gaan en het sommer met my ma se motor gery. Ek het by die verkeerslig gestaan toe my oog die een verdagte vang. Die volgende oomblik het ‘n ander man die deur aan die agterkant waar Al-Lanie gesit het, oopgeruk. Hy het haar selfoon probeer gryp. Al-Lanie het die selfoon na haar vriendin wat langs haar gesit het gegooi. Die verdagte het toe sommer in die motor geklim om die selfoon in die hande te kry. Daar het ‘n stoeiery ontstaan en Al-Lanie het verbete baklei en die verdagte geskop waarna hy opvlug geslaan het.”

Johannie vertel toe sy om die hoek ry het sy gehoor Al-Lanie skree eina-eina.

Al-Lanie se elmboog is oopgekloof tydens die stoeiery.

“Ek het gesien die bloed stroom by my kind se gesig af en het haar dadelik na die dokter gehaas.”

Al-Lanie het ‘n lang sny by haar oor en sy moes 20 steke kry. Al-Lanie sal in ‘n later stadium vir plastiese chirurgie moet gaan. Haar elmboog is ook oopgekloof tydens die stoeigeveg.

Johannie vertel sy is so gewoond daaraan dat haar motor se deure automaties sluit, dat sy dié dag vergeet het dat haar ma se motordeur nie automaties sluit nie. “Ek het geen wapen gesien nie en ons is nie seker wat die sny veroorsaak het nie. Ons vermoed die verdagte het iets skerps by hom gehad.”

Johannie vertel dat dit goed gaan met Al-Lanie en hulle geniet hulle vakansie.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version