Skenk geld om ‘sonskynkind’ te help

Op Vrydag, 30 Maart, het die neuroloog begin om haar sedasie te verminder en het haar familie ligte reaksie by haar gesien.

POLOKWANE – Vroegoggend op Sondag, 11 Maart, maak Heidi-Lene Jonck (23) gereed om die dag saam met vriende by Albasini-dam net buite Louis Trichardt te spandeer. Daardie aand spandeer sy haar eerste aand in die hospitaal, kritiek maar stabiel, gekoppel aan die ventilator vir suurstof.

Heidi-Lene het haar ma in haar gr. 9-skooljaar aan die dood afgestaan en sy en haar jonger boetie is by haar ouer suster, ElzeMarie du Preez en haar man in pleegsorg geplaas.

ElzeMarie vertel wat hulle op daardie tragiese Sondag verneem het.

“Soos daar aan ons verduidelik is, was daar ‘n stilstaande boot op die dam met almal wat op die opgeblaasde binneband wou ry. Heidi-Lene was op die binneband toe die boot van die stilstaande boot af wegdraai. Die binneband het uitgeswaai met die wat die boot spoed opgetel het, en sy het die agterkant van die stilstaande boot getref.”

Volgens omstanders het Heidi-Lene wel ‘n lewensreddingsbaadjie aangehad tydens die ongeluk.

“Sy het haar bewussyn verloor en gesig ondertoe in die water gedryf. Nadat sy uit die water gehaal is, het haar vriende met haar na die Zoutpansberg Privaat Kliniek in Louis Trichardt gehaas.”

Die dokter aan diens het haar stabiliseer en suurstof toegedien. Hy het ook X-straalplate laat neem waarna hy gevind het dat haar linkerbobeen gebreek is en dat sy ernstige hoofbeserings opgedoen het. Hy het aanbeveel dat sy onmiddellik na ‘n hospitaal met ‘n ortopeed en neuroloog oorgeplaas moet word.

“Daar is gereël dat sy na ‘n privaat hospitaal in Polokwane geneem word waar die dokter by ongevalle haar gestabiliseer het. Heidi-Lene het geen mediese dekking nie.

“Ons as familie het nie die tipe geld om haar in die privaat hospitaal te hou nie, ons kon dit wel geleen kry, maar ons het geweet dat die koste nie daar sou eindig nie. Ons was dus genoodsaak om haar na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal oor te plaas. Die oorplasing het vinnig en goed verloop.”

Heidi-Lene se toestand was uiters kritiek en sy het met asemhaling begin sukkel. Sy is aan die ventilator gekoppel vir suurstof, die CT-skandering het gewys dat sy ‘n skedelfraktuur het en dat haar brein baie geswel is.

Die neuroloog het haar onder sedasie geplaas om haar breinaktiwiteit tot die minimum te beperk.

“Die ortopeed het ons verseker dat hy haar bobeen mooi sal kan heg wanneer die swelling van haar brein gesak het, maar hulle was genoodsaak om die operasie vroeër te doen omdat sy te veel bloed bly verloor het by die gebreekte femur. Die operasie was suksesvol en die bloeding is gestop, sy het ‘n pen en skroewe in haar bobeen gekry. Sy het ‘n infeksie in haar longe opgedoen, moontlik van die vuil damwater wat sy ingeasem het tydens die ongeluk.”

Na ‘n CT-skandering en CT-angiogram op Woensdag, 28 Maart, is bevind dat die swelling van haar brein ook genoegsaam gesak het en dat hulle die volgende stap van haar behandeling kon neem.

“Die neuroloog het vermoed dat daar moontlik vernoude are in haar nek en brein kan wees, want dit het voorgekom asof sy klein beroertes kry. Die uitslag van die CT-angiogram het geen spesifieke vernouing aangetoon nie.”

Op Vrydag, 30 Maart, het die neuroloog begin om haar sedasie te verminder en het haar familie ligte reaksie by haar gesien.

“Saterdag was daar ‘n bietjie meer reaksie, sy het haar oë op skrefies oopgemaak en haar oë het in die rigting van waar sy ons stemme hoor gedraai, sy het ook ons hande liggies gedruk. Ons dank die Here vir hierdie positiewe reaksies, al is dit hoe klein.”

ElzeMarie vertel dat volgens die CT- skandering en die neuroloog is Heidi-Lene verlam aan die linkerkant van haar liggaam, maar kan die totale omvang van die skade, en of die skade permanent van aard sou wees, nog nie bepaal word nie.

“Dis nog te vroeg vir die neuroloog om ‘n prognose met ons te deel of selfs net te sê wanneer sy uit intensiewesorg verskuif sal word, maar die neuroloog het wel gesê dat sy verseker na ‘n rehabilitasiesentrum vir terapie verwys sal word.”

Heidi-Lene is ‘n student van Unisa en was besig met haar derde jaar studies vir ‘n onderwysgraad. Sy is vreeslik lief vir kinders en het deeltyds met kinders gewerk. Sy het ‘n kêrel en hy staan haar by deur die hele proses.

ElzeMarie beskryf haar sussie as Sonskyn. “Heidi-Lene is my sonskyn-kind, altyd opgeruim, altyd vriendelik, altyd gereed om te help, altyd ‘n bok vir sports. Toekomstige behandeling sal insluit fisioterapie, arbeidsterapie en sielkundige berading.”

Daar is ‘n fonds begin vir Heidi-Lene wat deur die Tafelronde 66 te Louis Trichardt administreer word juis vir haar rehabilitasie. Skenkings kan aan die Tafelronde 66 gedoen word met die verwysing: Heidi-Lene Jonck.

“Ons as gesin en familie is steeds oorweldig deur almal se ondersteuning, omgee, liefde, bystand en finansiële skenkings. Hoe ons staande gebly het tot nou is slegs deur almal se gebede en God wat ons staande hou. Dit is slegs deur die Heer se genade dat ons nog vir Heidi-Lene by ons het.”

Betaal skenkings hiér in:

Tafelronde 66

FNB

Rekeningnommer: 528 668 32804

Takkode: 260149

Verwysing: Heidi-Lene Jonck

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version