Choice-debakel brei uit

'n Besigheidsreddings-praktisyn wat glo op 1 Maart deur die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) aangestel is in die Free Agape Enterprises (Edms) Bpk/Choice Lifestyle Change-debakel, Herman Bester, het bevind dat daar 678 ongemagtigde uitbetalings gemaak is tussen 1 Desember 2014 en 30 Augustus 2017 met 'n totale waarde van meer as R151 miljoen.

POLOKWANE – Dié bedrag is slegs uit een van die maatskappy se bankrekeninge onttrek. Die besigheidsreddingspraktisyn het met die forensiese afdelings van banke reëlings getref dat transaksierekords aan hulle voorsien sal word ten einde data-ontginning te doen.

Ander banktransaksies ná Augustus 2017 sal ook ondersoek word in samewerking met ‘n span kenners met uitgebreide magte om te ondersoek, beslag op goedere te lê en te vervolg, met die samewerking van die owerhede.

Choice Lifestyle Change, ‘n afdeling van die Free Agape Enterprises (Edms) Bpk, het oorbruggingsfondse verskaf aan ander maatskappye, en beleggers het geld belê, waarvan hulle ‘n renteopbrengs van tot 15% per maand verdien het – tot die alleeneienaar en direkteur van Free Agape Enterprises (Edms) Bpk, Maarten Stapelberg, wat in Gansbaai gewoon het, in Desember oorlede is. Stapelberg was alleeneienaar van verskeie maatskappye en entiteite en, volgens inligting, voorheen van Polokwane. Hy het ‘n besigheidsvennoot gehad, Wouter Botha, wat in Polokwane woon. Botha is die alleeneienaar van Choice Finance Consultants en mede-eienaar van Choice Lifestyle Change, afdelings van Free Agape Enterprises (Edms) Bpk. Sy prokureurs het Review na die besigheidsreddingspraktisyn verwys vir alle sake aangaande die maatskappy.

Bester het vroëer vandeesmaand ‘n vergadering met beleggers in die skema in Polokwane gehou. Hy het verlede week in ‘n skrywe op sy webblad genoem dat sekere stappe nodig is voordat derde partye benewens die maatskappy ondersoek kan word. Spesiale magtiging en toestemming sal bekom moet word vir die ondersoek en beslaglegging van bates, en in sommige gevalle ‘n hofbevel. Bester sê dat hulle ondersoek en voorlopige bevindings die Valke en die batebeslagleggingseenheid sal help om die nodige toestemming en hofbevele te bekom om diegene wat onregmatig bevoordeel is te ondersoek.

‘n Span bestaande uit forensiese kenners van banke, agente van die ernstige handelsmisdaadeenheid, batebeslagleggingseenheid en die prioriteitsmisdaadondersoekeenhede in Port Elizabeth, Kaapstad en Alberton is saamgestel en ander eenhede soos benodig sal die span bystaan.

Hy sê ook dat die Finansiële Diensteraad en die Reserwebank se bevindinge oor oortredings van wette aan die betrokke owerhede gerapporteer is vir ondersoeke en vervolging en dat die betrokke owerhede saam met hulle span werk. Bester het ‘n beroep gedoen op enigeen wat uitbetalings buiten hulle ‘inkomste’ van die maatskappy ontvang het, om dit aan hom te verklaar.

Intussen het ‘n ander prokureursfirma van Pretoria ‘n aansoek ingedien dat die maatskappy gelikwideer word, maar Bester gaan dié aansoek teenstaan.

‘n Plaaslike prokureursfirma het reeds op 21 Februarie ‘n aansoek ingedien by die Hooggeregshof in Polokwane vir ‘n bevel om die maatskappy, Free Agape Enterprises (Edms) Bpk onder supervisie te plaas in terme van die Maatskappywet se Artikel 131 (1).

Beleggers in Choice Lifestyle dien aansoek in by Hooggeregshof

Niel Venter, prokureur van Diamond Inc, se aansoek namens ‘n groep kliënte sluit ook in dat ‘n plaaslike besigheidsreddingspraktisyn, Theo Meyer, as interim besigheidspraktisyn aangestel word en dat koste van die aansoek vir die rekening van die besigheidsreddingsproses sal wees.

Absa is blykbaar op 22 Februarie as eksekuteur aangestel en Bester is op 1 Maart aangestel as besigheidsreddingspraktisyn. Die CIPC moes reeds bewus gewees het van die aansoek van Diamond Inc, omdat Diamond Inc aan alle belanghebbendes kennis gegee het van hulle aansoek. Venter sê egter nou dat hulle hul aansoek terughou aangesien dit nie die moeite werd is uit ‘n koste-oogpunt om nou voort te gaan nie, aangesien daar meer aansoeke ingedien is.

Agapé-naam veroorsaak verwarring

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version