Local NewsNews

Jong ma sterf onverwags

"'n Passievolle vrou, met 'n hart vir mense. Sy het altyd gehelp waar sy kan. Sy was 'n besondere ma vir die kinders."

POLOKWANE – Só beskryf Francois van der Hulle sy vrou Elisma, wat vroeër vandeesweek aan ‘n hartaanval oorlede is.

Elisma het Maandag by ‘n plaaslike hospitaal ineengestort terwyl sy hulle baba van vier maande, wat brongitis gehad het, na die ongevalle-afdeling geneem het.

Die egpaar is in Januarie 2013 getroud nadat hulle in 2009 verloof geraak het.

Sy word beskryf as “mooi van binne en buite” deur ‘n vriendin op Facebook, en Trinette Meyer, verbonde aan Erica Pre-primêre Skool, vertel dat Elisma een van die mamma’s is wat die skool altyd sal onthou weens haar bereidwilligheid om met alles te help.

Sy het op die skool se fondsinsamelingskomitee gedien en het gehelp om die skool se koerant uit te gee.

Verlede Saterdag nog het sy vir ure gestaan en help by die skool se pretdraf nadat sy Vrydagmiddag ook gehelp het met voorbereidings.

“Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie, sy was ‘n staatmaker wat diep spore getrap het. Sy het gelewe vir haar kinders en haar en Francois se verhouding was soos Romeo en Juliet s’n,” vertel Meyer.

Elmarie Vorsatz, verbonde aan DDKK Prokureurs waar Elisma voorheen gewerk het, sê Elisma was ‘n “amazing’ mens wat geleef het vir haar gesin en dat haar en haar man se huwelik ‘n voorbeeld was van hoe ‘n huwelik moet wees. “Ons was baie geskok toe ons van haar dood gehoor het,” sê Vorsatz.

Erika Retief, Prinsipaal van De Huizemark agente sê: “Dit was ‘n voorreg om vir Elisma ‘n jaar deel van ons Huizemarkspan te kon maak. Sy was ‘n ongelooflike goeie vrou en niks was ooit te veel gevra vir haar nie. Elisma was so lojaal, haar goeie hart het ons almal geraak. ‘n Briljante werker wat moeilik is om te vervang. Een uit ‘n duisend wat al haar rolle voluit geleef het. Ons harte was seer toe sy ons verlaat om eers vir ‘n tyd tuis te bly om vir jong Aila te bederf. Elisma was so ‘n ongelooflike goeie mamma vir daardie drie lyfies. Sion, Lenka en Aila – julle mamma was die beste! Elisma se liefde vir haar gesin het gestraal. ‘n Ongelooflike vrou wat goeie herinneringe nalaat. Francois, mag mooi herinneringe julle altyd troos in hierdie moeilike tyd en mag God julle aanraak met Sy liefdevolle krag en Sy teenwoordigheid. Johan en Marlene, dit voel so onregverdig om ‘n dogter te verloor, maar mag Jesus julle toevou met sy liefde en vrede. Julle mag altyd trots bly op Elisma. Melanie, ons kan net bid vir krag en genade, jou sus was so lief vir jou! Ons dorp het beslis ‘n yster-vrou verloor! Jy sal baie gemis word, Elisma.”

Op Facebook sê Francois dat sy hart stukkend is. “Ek gaan nie meer as dit sê nie, buiten dat ek die liefde van my lewe verloor het.” Hy bedank almal vir hul boodskappe van medelye.

‘Laaste brief aan ‘n ongelooflike vrou’

Van Francois aan Elisma

My Liewe Bokka. My Bosveldnooi.

Ek tik vanaand hierdie brief en kan nie anders as om terug te dink aan die weke van wroeg voor ons troue met die liedjie wat ek vir jou geskryf het nie. My hart was gevul met liefde en hoop op ‘n leeftyd saam. Vanaand is die liefde meer as ooit tevore, maar my hart is stukkend, die skielikgeit onwerklik.

Soos ons mekaar belowe het, het ek die skottelgoed gewas sodat niemand in ons huis instap met ‘n vuil wasbak nie. Ek het ons kinders mooi vertel hulle ongelooflike mamma is by Jesus en diep in hulle harte, elke dag. Sion, Lenka en Aila sal jou nooit vergeet nie, dit belowe ek jou. Nie dat ek vir een oomblik dink hulle sou kon nie, jy was die beste moeder wat ons voor kon vra.

Ek bid dat die liewe Vader vir jou hierdie brief sal voorlees, dat jy ‘n glimlag sal kry en jou vonkelende giggel wat so uit jou maag uit kom, sal laat gaan. Daai giggel wat my laat lag selfs wanneer jy my met ‘n Paaseier op die voorkop ge”squish” het.

Jy was my inspirasie, my dryfkrag en in baie gevalle my gewete. Jy het die remme op my emosie gesit, my gehelp om my kragte in te span om elke dag beter en beter te wil wees. Jy het my met elke struikel weer opgehelp, my gedra in tye wat ek nie kon loop nie en met wysheid my elke dag raad gegee. Ek het ‘n vrou in jou gehad met wie ek die wêreld kon aandurf en ‘n groter seën en voorreg kan geen man voor vra nie.

Sion, Lenka en Aila gaan jou baie mis. Jy was ‘n mamma wat in die chaos van ouerwees al drie ons kinders kon versorg en geliefd laat voel. Sion is die goeie ouboet omdat sy Mamma hom van ware liefde geleer het. Lenka is die sterk persoon wat sy is want haar Mamma was ‘n sterk vrou met ‘n wil van yster en ‘n morele kompas wat altyd die regte rigting in gewys het. Ons Aila is die rustige en vriendelike mensie wat sy is want sy het elke dag met haar mamma se glimlag wakker geword en die vrede ervaar wat net van ‘n ware vrou van God af kom.

Jou familie is my familie, jou drome vir ons kinders is my drome. Ek sal myself elke dag afvra: “Wat sou Lisma doen?” en nooit struikel nie. Ek weet jy gaan elke dag by my en ons kinders wees.

Ek het jou ewig lief vrou van my hart, my bosveldnooi, my beste maatjie, my sielsgenoot.

Jou kinders en familie het jou ewig lief, die mamma met ‘n hart van goud.

Ek mis jou al klaar te veel al weet ek ons gaan jou eendag weer sien. Ek het jou lief.

Jou Gogga

Elisma word oorleef deur haar ouers, Johan en Marlene Potgieter, suster Melanie en haar man, ‘n seun van vier jaar, Sion, ‘n dogter van twee, Lenka en baba Aila.

Die roudiens was Donderdag vanuit die Ooskampus van die Taberna Dei gemeente, Bekkerstraat 106 in Faunapark gehou.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button