Local NewsNews

Mokopane se eie kunsvlyter kuier op die kassie

Die tweede seisoen van KykNET se gewilde program Kunsvlyt begin binnekort en een van Mokopane se vlytige kunstenaars, Melize van der Walt, is opgewonde om haarself dan op die kassie te sien.

MOKOPANE – Melize sê die program se inhoud is nog ‘n groot geheim en sy mag nie te veel uitblaker nie. Die eerste uitsending begin op 6 April om 18:00. Die program maak op 29 Junie klaar.

Dié kunstenaar wat in Mokopane saam met haar man, Jaco en drie seuns Henro, Marlo en Luan woon geniet dit om ‘iets van alles te doen’ wanneer sy haar kunstalente inspan.

Melize van der Walt, vlytige kunstenaar, aan die verf.

Sy gee ook kunsvlytklasse vir kinders en is tans besig om haar eie kunswinkel oop te maak.

Melize vertel haar vriendin en familie het haar aangemoedig om in te skryf vir die kompetisie.

“Ek het glad nie die eerste seisoen gekyk nie en was nie seker wat dit behels nie. Ek moes kunswerke in verskillende kategorieë inskryf en daaruit het hulle die top 10 gekies. Ek was daarna ingelig dat ek deel was van die top vlyters en is die program ‘n wyle terug in die stad geskiet. Dit was nogals erg want ek was twee weke weg van my gesin.”

Sy vertel dat die program nie net skilder behels, wat haar gunsteling kuns is nie, maar iets van alles.

“Ek moes daar van naaldwerk, wat ek glad nie kan doen nie, tot met ‘n gomgeweer, lapwerk, rommel en hout werk. Ek doen tog so bietjie houtwerk, maar skilder bly my gunsteling.

Ons was deur drie beoordelaars insluitend Michelle Holtzhausen, redakteur van die Creative Hobbies Tydskrif, Trudie Ayres en Almie Louis beoordeel. Hulle is almal kunsmense en weet presies hoe dinge werk.”

Melize sê die kompetisie was straf en dat daar reeds ‘n wenner aangekondig is, maar sy mag nie sê nie.

Sy sê dat sy die leersessie vreeslik geniet het so tussendeur al die trane.

“Ek is ‘n emosionele mens. Sodra iemand huistoe gestuur is, het ek gehuil.

Ek het baie nuwe vriende gemaak wat almal net soos ek is omdat ons dieselfde belangstellings deel. Wanneer ek klaar aan ‘n kunswerk gewerk het, was ek ‘n paar keer spyt oor wat ek gedoen het, veral wanneer ek na een van die ander deelnemers se werk gekyk het. Van die kunswerke wat ek moes doen het my uit my gemaksone gelig.”

Haar huis is vol van haar skeppinge, maar sy verkoop ook daarvan. Sy verf meestal dogtertjies uit ‘n fantasiewêreld.

Melize sê sy sal enige tyd weer aan Kunsvlyt deelneem aangesien sy baie geleer het.

Maak seker jy mis nie ons eie kunsvlyter wanneer die program afskop nie.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button