Man met mes op plaas in Roedtan-omgewing aangeval

Ockie Breedt wat gisteraand (Donderdag) agt keer met ‘n mes gesteek is op ‘n plaas in die Roedtan-omgewing, sterk aan in die Voortrekker Hospitaal op Mokopane.

MOKOPANE – Hy het met Bosveld gesels oor sy nagmerrie-ondervinding.

Breedt vertel hy het kort voor 18:00 by sy huis gestop toe twee mans hom genader het. “Die een man het ‘n pistool in my gesig gedruk en vir geld gevra. Hulle het my in die huis ingedwing en in die kamer vasgemaak.”

Volgens Breedt het die twee mans toe die huis deursoek en op die kluise afgekom en gevra vir die sleutels waarna hy vir hulle gesê het die sleutels is in die kombuis. Breedt vertel die verdagtes het hom na die kombuis geneem en in dié tydperk het hy homself losgewikkel en in ‘n worsteling met die aanvallers betrokke geraak. Tydens die struweling het een van die mans Breedt agt keer met ‘n mes gesteek. Een van die aanvallers is tydens die struweling gewond en hulle het op die vlug geslaan.

Breedt sê hy is dankbaar sy vier kinders was nie by hom tydens die aanval nie. Hy sou sy kinders vir die langnaweek gaan haal het en het gewag vir ‘n oproep van sy gewese vrou om die kinders, onderskeidelik 11, agt, ses en vier jaar, te gaan haal.  “Ek ys as ek dink wat sou gebeur het as hulle daar was. Die Hemelse Vader het my krag gegee om te baklei en Sy hand was oor my.”

Die woning op Roedtan. Foto: Verskaf

Die hulp van boere in die omgewing, Heritage Protection Group (HPG) en die polisie is na die plaas ontbied en nooddienspersoneel van die Potgietersrus Distrik Landbou-unie (DLU) het Breedt gestabileer en na die Voortrekker Hospitaal in Mokopane geneem.

Philippie de Beer, voorsitter van die DLU, sê HPG het spore op die toneel gevind en ‘n grootskaalse soektog is van stapel gestuur. “Boere van die Roedtan-omgewing, onder leiding van die veiligheidsverteenwoordigers van die DLU, het paaie in die gebied toegemaak.  Die reën het die soektog bemoeilik en dit is omstreeks 21:00 gisteraand afgelas.  Die ondersoek duur nou weer voort.”

Johan de Beer, Veiligheidsvoorsitter van die DLU,  het die aanval ten sterkste veroordeel.  “Ek doen ‘n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by georganiseerde landbou- en plaaslikeveiligheidstruskture.”

De Beer het sy dank uitgespreek teenoor HPG, die boere wat kom help het, asook die polisie wat vining gereageer het.

Marcelle Maritz, Limpopo Leier van Vryheidsfront Plus sê die VF+  gaan Breedt bystaan en geld insamel om sy mediese koste te dek. “Breedt is in die stadium werkloos en het finansiële hulp nodig, asook kos vir sy kinders. Ek gaan reël dat Breedt kos in die hospitaal kry. Ek wil ook Barbarian bedank vir die skenking van hemde vir Breedt want hy het geen klere in die hospitaal gehad nie.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Twee plaasaanvalle in 20 ure ruk Limpopo boeregemeenskap

MOKOPANE – Skaars 20 ure na die plaasaanval op Tom Burke is die boeregemeenskap geruk deur ‘n tweede aanval op nog ‘n boer in die Roedtan omgewing kort voor 18:00.

Die aanvallers het vermoedelik die boer in die huis aangeval en hom in die rug met ‘n mes gesteek en toe geskiet.
Dit is nog onduidelik wat die motief is vir die aanval en hoeveel aanvallers daar was. Daar word wel gesoek na twee gewapende persone met Hi-tech skoene, donkerblou hemde, blou denims en kaalkoppe.
Die boer is na Mokopane Hospitaal vervoer en sy toestand is nog onbekend.

‘Hy het my lewe gered’

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version