Sussa sterk aan na skietvoorval

Die gemeenskap het die afgelope twee weke erg onder 'n vlaag misdaad deurgeloop en Sussa, Suricat Sekuriteit se geliefde herdershond, is ernstig gewond in 'n skietvoorval.

MOKOPANE – Hennie Yeats, Suricat Sekuriteit reaksie-offisier, vertel Sussa is verlede Donderdag ernstig tydens ‘n skietvoorval in Hoogestraat gewond. Suricat het net na sewe die aand ‘n noodsein vanaf ‘n inwoner van Anncourt woonstelle ontvang en Yeates het na die toneel gehaas. “Met my aankoms het ek gesien hoe ‘n silwer BMW wegjaag en ‘n man hoor skreeu hy is beroof. Ek het die voertuig agterna gesit en by Copacabana woonstelle voor die verdagtes se voertuig ingery.”

Volgens Yeates het die verdagtes op hom geskiet en het hy ‘n u-draai gemaak sodat die voertuig se ligte op hulle kon skyn. “Ek het na die verdagtes se windskerm geskiet en hulle het op die vlug geslaan. Ons het met ondersoek vasgestel dat daar sewe koeëlgate in my voertuig was en dat Sussa ernstig gewond is.”

Yeates het dadelik na dr. Debbie Botha, ‘n plaaslike veaarts, se kliniek gejaag, waar sy Sussa gestabiliseer het.

Sussa is Vrydagoggend na Polokwane oorgeplaas en vandaar na Zambesi Dierekliniek in Pretoria. “Haar regter voorbeen was gesplinter en sy moes ‘n operasie kry waartydens penne ingesit is.”

Yeates sê Sussa is Saterdagoggend ontslaan en sterk tans by sy huis aan.

Hennie Yeates, (Reaksie-offisier van Suricat Sekuriteit) se Duitse herdershond, Sussa sterk tans aan na verlede Donderdagaand se skietvoorval.

Hy bedank die gemeenskap wat in ‘n kort tyd geld bymekaar geskraap het vir Sussa se operasie.

Volgens Suricat Sekuriteit was daar Donderdagaand nóg ‘n skietvoorval waarin ‘n polisie-offisier, wat nie aan diens was nie, deur twee booswigte in Rabestraat aangeval is. Die polisiebeampte het waarskuwingskote afgevuur en die booswigte gearesteer.

Daar is ook by ‘n ander woonhuis in Rabestraat ingebreek. Die agterdeur is oopgebreek en van die inwoners se items is rongestrooi. Die inwoner vermoed iets het die verdagte laat skrik en hy het gevlug sonder om iets te roof.

‘n Bakkery is verlede Saterdag beroof en een van die verdagtes het van die werknemers met ‘n mes gesteek. Die verdagtes het daarna op die vlug geslaan. Sondag is ‘n kiosk in Pretoiusstraat beroof. Die eienaar het self die verdagte vasgetrek en aan die polisie oorhandig.

Nico Harmse, Suricat Sekuriteit reaksie-offisier, sê misdaad neem erg toe en hulle stel voor die publiek moet hulle families beveilig en sekuriteit opskerp by huise en besighede. “Die afgelope tyd was daar ‘n gewapende roof, twee skietvoorvalle, roof met ‘n mes, inbrake en Maandag is daar by twee woonstelkomplekse toegeslaan en onderskeidelik by nege woonstelle ingebreek.”

Harmse sê met die hulp van inwoners het Suricat Sekuriteit en Strake Sekuriteit twee verdagtes vastrek wat al ‘n geruime tyd in die omgewing roof en leë huise plunder.

Jakob Kgasi en Nico Harmse (Suricat Sekutiteit, reaksie-offisiere) met twee verdagtes wat met die hulp van Strake Sekuriteit en inwoners vasgetrek is.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version