Percy Fyfe DBV smeek vir hulp

Die Percy Fyfe Dierebeskermings-vereniging is in geldelike nood en benodig dringend fondse.

MOKOPANE – Marcelle Maritz, Bestuurder van die DBV, sê die vereniging is die stem van diere wat in nood verkeer en wys nooit ‘n dier weg nie, maar sy sit met haar hande in haar hare om die deure oop te hou. “Die DBV is ‘n nie-winsgewende organisasie en maak staat op skenkings. Die Lotto het ons altyd gedra deur befondsing maar drie jaar terug het hulle gestop met geldelike hulp.”

Maritz sê die gemeenskap kan nie bekostig dat die DBV se deure gesluit word nie. “Die DBV dek ‘n massiewe area van 55 000 vk/km wat Settlers, Tuinplaas, Bela-Bela, Modimolle, Groblersdal, Burgersford, Jane Furse, Ysterberg, Steelpoort, Marken en Mokopane insluit.”

Volgens Maritz beloop die DBV se uitgawes tussen R60 000 en R70 000 per maand. “Dit is vir voertuigonderhoud en brandstof, versekering, lone, water, ligte en kos . Voeg daarby medikasie vir die beeste, honde, katte, skape en bokke en dan is daar nog veearts onkostes ook.”

Maritz sê diere lê haar na aan die hart en sy kan veral nie dieremishandeling verdra nie. “Wanneer daar nood is dan help ons graag en waar nodig sal ons die skuldiges aan die pen laat ry.”

Die DBV hou Saterdag, 24 Maart, ‘n fondsinsamelingsdag en nooi die gemeenskap om die dag saam hulle te kom geniet. Maritz sê: “Dit gaan ‘n dag vol aktiwiteite wees met onder meer Gerry Lee wat die besoekers gaan vermaak met sy sangtalent. Daar sal ook ‘n tombola tafel wees, asook Chip a Thon wat jou geliefkoosde hond of kat sal chip teen ‘n baie bekostigbare fooi van R150. Kom bederf jou hond by Shake a Paw se stalletjie met ‘n lekker bad of skeer.”

Maritz vra dat inwoners ‘wit olifante’ wat in die pad staan aan die DBV skenk vir die dag wat weer verkoop sal word vir fondsinsameling. Diegene wat kontantskenkings wil maak kan Maritz kontak by 078 617 8682 vir die DBV se bankbesonderhede.

Maritz sê: “‘n Skamele R50 sal ook help. Ek wil die inwoners en besighede wat alreeds maandelikse skenkings maak bedank. Sonder julle sou die deure al lankal toe gewees het.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version