Local NewsNews

Beurtkrag, waternood bedreig Modimolle-Mookgophong

Inwoners van die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit wat die dorpe Modimolle, Mookgophong en Vaalwater insluit, gaan van volgende Saterdag met beurtkrag gekonfronteer word as die munisipaliteit nie intussen daarin slaag om Eskom te laat afsien van sy voorneme om dán kragvoorsiening aan munisipale kragverbruikers met tussenposes af te skakel nie. Die Naboom Besigheidsforum het intussen ook bevestig …

Inwoners van die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit wat die dorpe Modimolle, Mookgophong en Vaalwater insluit, gaan van volgende Saterdag met beurtkrag gekonfronteer word as die munisipaliteit nie intussen daarin slaag om Eskom te laat afsien van sy voorneme om dán kragvoorsiening aan munisipale kragverbruikers met tussenposes af te skakel nie.
Die Naboom Besigheidsforum het intussen ook bevestig dat hy Dinsdag ‘n aansoek in die Limpopo Hooggeregshof gaan bring om Eskom se beurtkragplanne te stuit.
Verbruikers in Modimolle en Mookgophong staar boonop ‘n waterkrisis in die gesig as gevolg van die abnormale lae damvlakke wat dié dorpe van water voorsien. Indien die damvlakke nie binnekort styg nie, sal daar binne 80 dae geen bruikbare water vir Modimolle beskikbaar wees nie en die situasie in Mookgophong is selfs erger. Marlene van Staden, burgemeester van die munisipaliteit, sê Mookgophong se ‘Dag Zero’ kan binne 49 dae aanbreek.
“Beurtkrag ‘n realiteit” – Eskom
Eskom het die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit onlangs formeel in kennis gestel dat die munisipaliteit vanaf 31 Maart onder beurtkrag gebuk sal gaan indien daar nie voor eergister (Dinsdag) R24 miljoen en ‘n verdere bedrag van R15,7 miljoen voor volgende Donderdag aan die entiteit oorbetaal word nie. Van Staden het gister (Woensdag) bevestig dat die eerste betaling gemaak is.
Hoewel daar deurgaans met Eskom oor die aangeleentheid onderhandel word, kon nog geen ooreenkoms bereik word nie, het Van Staden Dinsdag aan Polokwane Observer gesê. “Ek is bekommerd oor die uitwerking wat beurtkrag op plaaslike ondernemings, inwoners en besoekers sal hê, veral met die Paasnaweek.” Phagameng en Lesideng maak ook ‘n deel van die munisipale gebied uit en sal ook geraak word.
Volgens Van Staden het die munisipaliteit gedurende November 2017 ’n afbetalingsooreenkoms met Eskom gesluit om te verseker dat die munisipaliteit se reuse agterstallige kragrekening van meer as R200 miljoen stelselmatig afbetaal word. Lopende maandelikse betalings moes ook stiptelik gemaak word en die laaste betaling is op 18 Januarie gemaak. “Die munisipale bestuurder, Phineas Sebola, as rekenpligtige beampte, is daarvoor verantwoordelik om die munisipaliteit se finansies te bestuur en krediteure stiptelik te betaal,” sê Van Staden en verduidelik dat sy ‘n oorsigrol vervul en verskeie kere die finansiële state van die munisipaliteit aangevra het sodat sy op hoogte kan bly van die uitstaande skuld en die finansiële uitdagings van die munisipaliteit. “Die munisipale bestuurder het egter nie aan my versoeke gehoor gegee nie.”
“Inwoners regdeur die munisipaliteit betaal elke maand pligsgetrou hul kragrekeninge en mag nie gestraf word omdat die administrasie versuim het om die munisipaliteit se krediteure stiptelik te betaal nie. Ek is vasbeslote om die kwessie op te los en het reeds met verskeie rolspelers in verbinding getree om die afdwing van beurtkrag te verhoed,” sê Van Staden.
Eskom se kliëntediensbestuurder in Limpopo, Hilton Rampedi het Dinsdagoggend aan Polokwane Observer gesê dat beurtkrag vir Modimolle-Mookgophong vanaf 31 Maart “nie ‘n dreigement is nie, maar ‘n realiteit”. Rampedi het bevestig dat die munisipaliteit formeel van die instelling van beurtkrag in kennis gestel is ingevolge die Wet op Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA).
Forumvoorsitter, Mokone du Preez, sê korttermyn- en langtermynstrategieë is tydens die Naboom Besigheidsforum se openbare vergade­ring wat Maandagaand gehou is bespreek om ‘n dringende aansoek in die Limpopo Hooggeregs­hof te bring om Eskom te verhoed om beurtkrag in te stel. ‘n Kennisgewing is reeds op Eskom beteken en die saak is op die hofrol vir volgende Dinsdag. Inwoners se gemoedere is gekalmeer en geld is ingesamel om die uitgawe te dek. Du Preez sê die langtermynstrategie sal later in oorleg met die Waterberg Sakekamer, wat in Modimolle gesetel is, aangespreek word.
Munisipaliteit se waterbronne leeg
Van Staden sê die watersituasie in die munisipale gebied is kritiek en die vlakke van die Frikkie Geyser (Welgevonden) en Donkerpoortdamme, wat Modimolle en Mookgophong van water voorsien, is onderskeidelik op 16% en 14,96% kapasiteit. “Die munisipaliteit het reeds streng waterbesparingsmaatreëls ingestel en die verbruik per persoon is van 125 liter tot 77 liter per dag verminder. Die munisipaliteit het ook R18 miljoen vir die opgradering van die verouderde waterverspreidingsnetwerk bewillig,” het Van Staden bevestig.
Die munisipaliteit bied vandag (Donderdag) ‘n Waterbewusmakingsdag wat met Nasionale Waterweek en Wêreldwaterdag saamval, aan en beplan om laer- en hoërskole in Modimolle en Phaganeng te besoek.
Van Staden het ook bevestig dat amptenare van die departement van water en sanitasie by die amptenare sal aansluit en voorligting oor waterverordeninge en waterbesparingsmaatreëls sal gee. “Die departement het ook onlangs ‘n opname van boorgate in die munisipale gebied wat in privaatbesit is, gemaak en bevind dat dit ‘n bydrae tot watervoorsiening aan die dorpe kan maak. Alle boorgate is egter nie geregistreer nie en daar is verbruikers wat hul toegelate kwotas oorskry,” sê sy.
Woordvoerder van die provinsiale regering, Phuti Seloba sê dat die watersituasie in Modimolle-Mookgophong dopgehou word en ‘n bron van kommer is. Geen versoek is egter nog van die munisipaliteit ontvang om in te gryp nie en die munisipaliteit word die geleentheid gegee om die situasie te bestuur. het Seloba bevestig.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button