‘Dagsorg’ vir jou vierpoot-kind

Vir sommige mense is honde maar net dit - honde. Vir ander is dit hulle kinders, 'n deel van die familie.

POLOKWANE – In groter stede soos Johannesburg en Kaapstad is ‘n dagsorg vir honde ‘n algemene ding, maar in Polokwane moet honde-ouers maar tevrede wees om hul hondekinders by die huis te los terwyl hulle gaan werk.

Tot nou toe.

Diereliefhebber en eienaar van Von Zei Dog Lodge, Lizelle du Bruin, het besluit om ‘n dagsorg net vir honde oop te maak. Hulle bied ook ‘n herberg vir honde vir langer tye.

Haar assistent, Suné Bacher, vertel meer van wat daar gebeur.

“Paw Patrol is ‘n dagsorg en sosialiseringsprogram vir honde,” vertel sy terwyl haar eie hond, asook ander honde wat by die lodge bly, haar aandag probeer kry.

Geduldig gooi sy ‘n bal vir hulle om te gaan haal en krap ‘n oor.

Suné en haar vriendin, Annemie Snijders, werk saam by Paw Patrol. Annemie is tans by South African Dog College besig met ‘n inspekteurskursus.

“Hier is twee pekingese honde wie se eienaars na Amerika verhuis het en hulle bly nou hier totdat hul kwarentyntydperk verby is sodat hulle ook Amerika toe kan gaan. Alle honde wat hierheen kom, moet ingeënt en ontwurm wees. Hulle moet ook ‘n kennel cough inspuiting hê,” vertel Suné.

Die dagsorgarea is toegerus met ‘n huisie, swaai, tonnel en ander apparatus waarmee die honde kan speel.

Eienaars moet verkieslik vir die honde kos saambring, aangesien elke hond ander kos eet en hul gewoonlik eers gewoond moet raak aan ‘n nuwe soort kos.

Elke hond kry ook ‘n daaglikse verslag waar Suné en Annemie aan eienaars verslag doen oor, onder andere, die hond se eetgewoontes, sosialisering en ander aktiwiteite.

“Ons het ook honde in die hokke waarmee ons daagliks speel en gaan stap. Hier is drie hokke vir daghonde, drie groot hokke met baie hardloopplek vir plaashonde en 11 gewone hokke. Daar is ook ‘n hok vir klein hondjies wat ons die 007-Kennel noem.” Sy vertel dat die Paw Patrol dagsorg op Maandae, Woensdae en Vrydae tussen 08:00 en 17:00 oop is, en dat besprekings ten minste twee tot drie dae voor die tyd gemaak moet word.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version