Meisie ‘sien’ lewe deur haar nuwe oë

Anika Barnard (10), of Ani soos haar ma haar noem, is sonder oë gebore.

POLOKWANE – Met ‘n vriendelike “hallo, tannie” groet Anika Barnard (10) my. Stroopsoet, soos ‘n regte poppie, sit sy op haar ma se bank en wag vir my en haar ma, Santie, om by haar aan te sluit.

Review lesers het verlede jaar met Anika kennis gemaak. Anika, of Ani soos haar ma haar noem, is sonder oë gebore. Santie en haar man, Kobus, het Anika aangeneem toe sy ses jaar oud was.

Anika Barnard voor sy keramiekoë gekry het. Foto: Verskaf.

Santie onthou toe hulle vir Anika gekry het, kon sy nie praat nie, haar hande was krom en sy het haar gesig heeltyd na onder gehou.

Vandag is Anika ‘n selfstandige, onafhanklike jong meisie wat nie toelaat dat haar gebrek in haar pad staan nie.

“Ek is in ‘n nuwe skool, Prinshof Skool vir die visueel gestremde in Pretoria, waar ek hard moet werk en hard moet leer,” vertel sy trots. “Ek bly by tannie Stella Bernings en ry elke dag met die bussie skool toe.”

Santie vertel dat hulle baie gelukkig was om vir Anika blyplek te kry.

“Ons het haar by die skool ingeskryf en wou haar nie graag in die koshuis saam met ‘n klomp ander leerders sit nie. Ons het geglo dat die Here sou voorsien en binne ‘n kort tydperk het ons gehoor dat tannie Stella ‘n plek vir haar het. Daarna was dit ‘n bietjie van ‘n bekommernis oor plek op die bussie, maar spoedig het ons daar ook reggekom.”

Anika vertel dat sy elke Vrydag toets skryf en daarna naweke huistoe kom. Sy is in ‘n gekombineerde gr. 1 en gr. 2 spesiale klas en Santie en Kobus droom dat Anika in die toekoms in ‘n hoofstroomskool kan aanpas.

“Sy het baie selfstandig geword en ‘n mens kan selfs sê dat sy volwasse geword het. Ons kan sien hoe sy groei. Sy gee om vir ander mense en deel graag. Ons het haar geleer dat sy nie haar kos moet deel nie en ook nie kos van ander moet neem nie, dit is maar vir veiligheidsredes.”

Terwyl ons gesels gaan haal Anika vir haar water in die kombuis en gaan bêre ook weer haar glas. Santie vertel dat Anika haar eie klere kies en dat sy vir haar verjaarsdag haar eie rok gekies het nadat haar ma verduidelik het hoe die rokke lyk.

In April 2016 is die proses begin om Anika se ooglede te rek en haar oogbanke gereed te maak vir keramiekoë en vandag spog sy met die mooiste blou oë.

“Ons is baie trots op haar. Van waar sy vandaan kom tot waar sy vandag is, is ‘n groot verandering. Sy bring lig in ons hele familie se lewens.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version