Veritas Spanredenaars se baanbrekerkompetisie
Wenners van elke jaargroep Die tweede Veritas Spanredenaarskompetisie het op 5 en 6 Maart by Hoërskool Pietersburg (PHS) plaasgevind. Dié baanbrekerskompetisie is die enigste een in Limpopo waar skole regoor die provinsie deelneem vir kontantpryse, maar meer belangrik, vir die ervaring. George Malan, direkteur van Veritas, het in sy verwelkomingstoespraak aan die deelnemers die belangrikheid van ‘n …
Wenners van elke jaargroep
Die tweede Veritas Spanredenaarskompetisie het op 5 en 6 Maart by Hoërskool Pietersburg (PHS) plaasgevind.
Dié baanbrekerskompetisie is die enigste een in Limpopo waar skole regoor die provinsie deelneem vir kontantpryse, maar meer belangrik, vir die ervaring.
George Malan, direkteur van Veritas, het in sy verwelkomingstoespraak aan die deelnemers die belangrikheid van ‘n goeie spreker deurgegee. “Dis vir ons ‘n voorreg om weer die kompetisie te borg wat PHS aanbied. Dis ‘n voorreg om ‘n rol in die jeug se ontwikkeling te speel,” sê Malan.
Spanredenaars gaan oor interaksie tussen sprekers, aanbieding voor ‘n gehoor en baie pret. Die toesprake kan oor enige onderwerp handel, maar moet beredenerend wees. Elke span bestaan uit vier lede waarvan een as voorsitter optree.
Elke lokaal het drie beoordelaars met baie ondervinding in die beoordeling van redenaarskompetisies gehad. Na elke sessie het die hoofbeoordelaars die spanne deur die repliek geneem, om hulle te help verbeter en wenke vir volgende jaar te gee.
PHS se VLR-lede het as gasheer, voorsitters en puntetellers gedien.
Die skool het die 35 deelnemende spanne met bederfpakkies verwelkom en elkeen het ‘n deelnamesertifikaat ontvang. Vanjaar was daar meer laerskoolspanne en ‘n afdeling vir Engelse spanne wat hopelik in die toekoms sal groei.
Dit was twee dae van uitstekende toesprake waarin ‘n wye reeks van temas bespreek is, indrukwekkende spanwerk en lekker gees. Van die gevare van sosiale media en mans wat in hul spore moet trap tot en een graad 5-spannetjie wat Kaas beredeneer het.
“Kultuur berei leerders voor vir die lewensverhoog waarop elkeen ‘n rol speel wanneer hulle die lewe na skool betree. Hou julle oë oop vir inspirasie. Volgende jaar maak ons weer so,” sê Magda Thiart, organiseerder en leerkrag van PHS.