Polokwane tweeling kort dringend hulp

Die dag toe Jaco en Natasha Pieterse die nuus ontvang dat hulle ouers gaan word, is al hulle wildste drome bewaarheid. Maar vandag, minder as ‘n week na die geboorte van hul tweeling, dreig die onweerwolke om hul drome en ideale uit die weg te ruim.

POLOWKANE – Die bekommernis is duidelik sigbaar in altwee ouers se oë waar ons by ‘n koffiewinkel sit en gesels.

“Dokters het gesê ek sal nie kinders kan hê nie dus was ons verbaas toe ons hoor dat ek swanger is, en dit nog met ‘n tweeling. Ons was so opgewonde oor hoe die Vader ons seën,” vertel Natasha.

Die paartjie het in Desember na Polokwane verhuis nadat Jaco hier werk gekry het. Natasha, ‘n kleuterskooljuffrou, was nie werksaam voor die geboorte van hul seuns nie.

“Dit alles het vir ons spanning veroorsaak en dit kan dalk die rede wees waarom ek vroeg in kraam gegaan het.”

Natasha vertel dat sy Vrydag, 9 Maart hospitaal toe gegaan het nadat sy gevoel het iets is nie pluis nie. Na ‘n lang gewag het die verpleegpersoneel vir haar gesê sy is nie in kraam nie, maar toe die dokter haar wel ondersoek het, het hy bevestig dat sy reeds vier sentimeter ontsluit was.

“Beide ons seuns was brugbabas en die dokter het gesê ek moet ‘n noodkeiser kry. Ek was slegs 35 weke swanger en my seuns is dus ses weke te vroeg gebore.”

Een van die Pieterse-tweeling.

Die tweeling, Janco en Jandré, is Saterdag in die vroëe oggendure gebore. Janco was by geboorte 1,8 kg en Jandré slegs 1,6 kg.

“Die behandeling by die provinsiale hospitaal was goed en die personeel vriendelik en behulpsaam, maar na my seuns gebore is, kon die hospitaal nie die nodige mediese hulp aan ons bied nie en ons het besluit om hulle na ‘n privaat hospitaal te skuif.”

Plaasing op Child Medi Organisation Facebookblad.

“Jandré is ons vegtertjie en dit gaan goed met hom. Janco aan die ander kant kort bloed en dokters vermoed hy het vrugwater gesluk. Sy maag is ook opgeswel en dokters moet gereeld toetse doen.”

Die ouerpaar vertel dat hulle nie oor ‘n mediese fonds beskik nie en inderhaas op Dinsdag geskarrel het om genoeg geld in te samel om die tweeling na ‘n privaat hospitaal oor te plaas. Hulle moes ook opdok vir die ambulansrit na die privaat hospital.

Janco en Jandré is tans nog in die hoësorgeenheid van die privaat hospitaal maar daar is slegs genoeg geld om hulle vir nog een aand daar te behandel anders gaan hulle weer terug na die provinsiale hospitaal oorgeplaas moet word.

“Hierdie twee is ‘n seën vir ons en ek sal alles in my vermoë doen om geld te kry om vir hulle die beste mediese sorg te gee.”

“Hulle name is vir ons spesiaal. Janco klink baie soos Jaco. Ek het een aand gedroom en gedurende dié droom het die naam Jandré gereeld opgekom. Die volgende dag, sonder dat ek iets gesê het, het Jaco vir my gevra hoe klink Jandré. Ek het geweet dit is ons ander seun se naam.”

Volgens die ouers kort hulle sowat R400 000 vir die nodige behandeling.

Enige iemand wat graag wil bydra, kan ‘n betaling maak in Child Medi Organisation se rekening:

Child Medi Organisation

FNB Tjekrekening

Rekeningnommer: 626 325 810 56

Takkode: 250655

Swiftkode: firnzajj

Verwysing: J & J Pieterse

info@childmedi.org

Belastingvrywaringsvorms is ook beskikbaar vir besighede en individue.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version