Bekwame jagter sterf in skietongeluk

'n Laaste huldeblyk work volgende week aan Paul Oosthuizen betoon

POLOKWANE – Paul Oosthuizen (57) is Maandagaand in ‘n skietongeluk in sy huis in Bendor oorlede.

Volgens sy seun, Jan-Carel, was sy pa ‘n toegewyde jagter wat reeds vir jare lank jag en dus gewere ken.

“Ons weet nie presies wat gebeur het nie. My ma, Rienie, het gaan stap en toe sy by die huis kom het sy gesien alles staan oop, en die honde was nie waar hulle moes wees nie. Sy het by die huis ingegaan en my pa op die vloer in die gang aangetref. Ons een hond het by hom gesit,” vertel Jan-Carel.

Die kuierarea in Paul en Rienie se huis getuig van ervare jagters met opgestopte diere en velle wat as versiering dien.

“My pa sou volgende maand saam met ‘n vriend gaan jag het. Hy was besig om sy gewere skoon te maak toe die skoot afgaan, dit was ‘n ongeluk.”

Jan-Carel is Paul en Rienie se enigste seun en hy is laat verlede jaar met Melissa getroud.

“Ons het net verlede Maandagaand vir my ouers vertel dat hulle oupa en ouma gaan word. My pa het vir presies ‘n week geweet hy gaan oupa word.”

Paul was in Tzaneen op skool en is na skool vir vier jaar weermag toe. Daarna het hy by Trustbank en later Boland Bank gewerk.

Hy het later ‘n tweedehandse motorhandelaar, Zenpro Motors, oopgemaak.

“My pa was ‘n baie liefdevolle man met ‘n goeie hart. Hy kon met enigiemand oor die weg kom. Hy was ook baie streng en wat reg was, was reg en wat verkeerd was, was verkeerd. Geen grys areas nie.”

Jan-Carel vertel dat een ding wat hy by sy pa geleer het en nooit sal vergeet nie, is om nooit te jok nie.

“Dit is iets wat my pa geweldig kwaad gemaak het. Ek gaan sy lag die meeste mis. Hy was ‘n bok vir sports en nog baie aktief vir sy ouderdom, hy kon lekker saam met ons kuier tot laat.

“Ek het so baie van die bos by hom geleer en hy was ook baie lief vir tuinmaak. Hy het dit altyd geniet om self die vleis te bewerk wanneer ons gejag het.”

Hy vertel dat Rienie rustigheid het oor wat gebeur het, maar dat sy baie hartseer is en dat dit ‘n groot verlies vir haar is.

Polisiewoordvoerder, lt. kol. Moatshe Ngoepe, het bevestig dat ‘n geregtelike doodsondersoek gedoen word.

Paul word op Dinsdag, 13 Maart, om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Suid in MacDonaldstraat begrawe.

maretha@nmgroup.co.za

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version