Local NewsNews

Plaaslike sakeman sterf na fratsongeluk met jaggeweer

Die 57-jarige welbekende sakeman in die stad se motorbedryf, Paul Oosthuizen, is Maandagaand in ‘n fratsongeluk dood toe ‘n skoot van sy jaggeweer in sy huis in Bendor afgegaan het en hy noodlottig in die bors getref is. Sy seun, Jan-Carel, sê hy laai daagliks sy hond by sy pa se huis af en op …

Die 57-jarige welbekende sakeman in die stad se motorbedryf, Paul Oosthuizen, is Maandagaand in ‘n fratsongeluk dood toe ‘n skoot van sy jaggeweer in sy huis in Bendor afgegaan het en hy noodlottig in die bors getref is.
Sy seun, Jan-Carel, sê hy laai daagliks sy hond by sy pa se huis af en op omdat die hond bedags nie alleen by hom en sy vrou, Melissa, se meenthuis kan bly nie. “Ek is oudergewoonte na my pa se huis om my hond op te laai en het my pa op die bank aangetref waar hy besig was om sy jaggeweer skoon te maak ter voorbereiding van ‘n grootwildjagtog van hom en ‘n vriend in April. Ek is later huis toe en het omstreeks 18:45 ‘n oproep van my ma, Rienie, ontvang dat my pa geskiet is.”
Hy het hom terug na sy pa se huis gehaas waar hy hom dood in die gang aangetref het. “Ons vermoed hy het een geweer gebêre en ‘n skoot het afgegaan toe hy die .857-kaliber uit die kluis gehaal het. Dit was bloot ‘n fratsongeluk omdat my pa nog altyd ernstig oor vuurwapenveiligheid was,” sê Jan-Carel.
Rienie, ‘n ywerige stapper, was tydens die ongeluk elders besig met oefening saam met haar klubmaats en het met haar tuiskoms op Paul se liggaam afgekom.
Paul het aan Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen gematrikuleer waarna hy by die destydse Trustbank en Bolandbank gewerk het. In 1991 het hy Zenpro Motors gestig en was tot sy dood die eie­naar van die gewilde tweedehandse motoronderneming in die stad waar Jan-Carel die finansie­ring van voertuie hanteer en Rienie in die administratiewe afdeling werksaam is.
“Hy was baie sosiaal en kon gemaklik met mense van alle ouderdomme gesels. Sy liefde vir die natuur en veral vir jag en visvang sal ek altyd onthou. So ook sy unieke humorsin. Die feit dat hy uit sy maag kon lag was tekens van sy spontane en liefdevolle persoonlikheid,” sê Jan-Carel.
Volgens hom het sy pa baie vriende gehad omdat hy ‘n maklike persoon was om mee oor die weg te kom.
‘n Vriend en voormalige werknemer van Paul, Callie van Heerden, wat tans die algemene bestuurder van Peugeot, Citroën en Mahindra Polokwane is, sê Oosthuizen was nie net ‘n baas nie, maar ‘n vriend. “Ek het omtrent 10 jaar vir hom gewerk en hy het my gemaak wat ek vandag is. Alles wat ek van die
motorbedryf weet, het ek by hom geleer. Baie handelaars het na hom opgekyk en sy heengaan laat ‘n groot leemte in die plaaslike motorbedryf.”
Paul word Dinsdag om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Pietersburg-Suid in McDonaldstraat begrawe.
Provinsiale polisiewoordvoerder Moatshe Ngoepe het die voorval bevestig en gesê ‘n geregtelike doodsondersoekdossier is geopen.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button