Mollie Hawken kliniek vir diere nou oop by DBV

Vir maande lank is daar gedurig gebou en gebreek, geverf en geskrop sodat die Molly Hawken Dierekliniek hul deure op Donderdag, 15 Februarie kon open.

POLOKWANE – Dié kliniek is die breinkind van die DBV Polokwane komiteevoorsitter, Tania le Roux.

“Daar is ‘n spesiale rede waarom ons juis op 15 Februarie ons amptelike opening gehou het. Molly Hawken sou vandag 88 jaar oud gewees het.
“Molly was die vrou wat hierdie kleinhoewe en huis waar die DBV vandag geleë is, aan die DBV in haar testament bemaak het.
“Sy was ‘n besigheidsvrou en mense wat haar goed geken het, sou sê sy is ‘n werkesel, maar ook toegewyde diereliefhebber,” vertel Tania.
Tania het ‘n paar jaar gelede besoek afgelê by Ballito’s Charity Shop, waar items verkoop word om geld in te samel vir hul DBV, waarna sy terug gekeer het na Polokwane en die gemeenskap oorreed het om ‘n liefdadigheidswinkel in die stad te open.
“Debbie Mouton, wat op ons komitee is, het gehelp dat ons ‘n winkel by Savannah Mall kry. Ons winkel het floreer en binnekort kon ek my belofte aan almal laat waar word. Ons kon ons eie kliniek bou.”
Sy vertel nadat die winkel die helfte van die geld wat benodig was geïn het, kon hulle met die kliniek begin. “Maar sonder ‘n veearts sou daar nie ‘n kliniek kon wees nie. Die DBV sou nooit ‘n voltydse veearts kon bekostig nie, maar Hennie de Kock, voormalige bestuurder van die DBV, en sy vrou, Ansie, het my gekontak om my van dr. Nadia Krige te vertel, ‘n veearts wat graag by die DBV en kliniek betrokke wou raak.”
Nadia vertel haar droom is om diere te beskerm en een manier om dít te bewerkstellig is sterilisasie.
“Dit sal lei tot minder diere en hopelik eendag, sal al die troeteldiere geliefde huise hê asook mediese sorg en sodoende sal baie mishandeling voorkom word,” verduidelik sy.
Bakery Co. se bakkers, Armand en Juan Potgieter, het ‘n koek vir die opening van die dierekliniek gebak en een van Linda Dyer se honde, Teddie, het ‘n vertoning gedoen. Verteenwoordigers van die Nasionale DBV het ook die geleentheid bygewoon.
Die DBV Polokwane bedank hul borge, Wally Oosthuizen (Savannah Mall, onderhoudsbestuurder), Melanie de Bruyn (Sterling Productions), Timene Watt (vrywilliger en bestuurder van die projek), Herman Bornman (Dulux PaintIt), Mark Mockford en Chantelle Fletcher (Limpopo Structures), Stephan Janse van Rensburg (SS2 Electrical vir al die elektriese werk), Faan Buitenbach (Racs Civils vir plaveisel en arbeid), Clement Scott (Esmoené Ceilings, Partitions and Turnkey Project Management vir materiaal en arbeid), Henry Cooper (PG Aluminium vir die ingangsdeur), Garth van Heerden (Northern Aluminium Shopfitters vir die operasiekamerdeur), Donnavan Vorster (QCK Airconditioning vir die lugverkoeling), Gert Vogel (Chandlers), Far North Plumbing en PlumbLink. “Waarlik baie dankie.”
maretha@nmgroup.co.za
Fo`
Exit mobile version