Local NewsNews

Dr. Hannelie Groenewald vertel van haar beproewing

Wanneer ‘n mens jou toekoms beplan, beplan jy nie om afskeid van jou man en kinders te neem nie, veral nie in ‘n vremde land nie.

POLOKWANE – Tog moes dr. Hannelie Groenewald in 2014 haar toekomsplanne soos sy dit gehad het verander en moes sy ‘n nuwe lewensdoel vind.

Hannelie het die stad besoek waar sy met vroue gesels het oor opstaan uit die as. Hannelie en haar man, Werner, wat ‘n predikant was, en hulle twee jong kinders, Jean-Pierre en Rodé, het in 2003 hul vriende en familie in Suid-Afrika gegroet en hulself in Kaboel, Afghanistan as sendelinge gaan vestig.

“Ons het die koste bereken en geweet ons gaan na ‘n gevaarlike oorloggeteisterde land. Ons het tot die gevolgtrekking gekom as man en vrou, dat indien iets slegs sou gebeur, God dit vir ‘n goeie rede sou toelaat. Ek het nooit gewonder of God Sy beskerming van ons af weggeneem het nie, want ons was binne Sy perfekte wil. Sy roeping was duidelik en het vas gestaan. Ons was waar Hy ons wou hê. Ons sien net die agterkant van die tapisserie wat onduidelik is. God sien die voorkant. Ons sal nooit ten volle alles kan verstaan en die hoekoms en waaroms kan beantwoord nie. My verstaan van dit is dat God die tragedie toegelaat het vir ‘n spesifieke rede en dat Hy die goeie uit dit sal laat voortspruit tot Sy eer.”

Hannelie vertel sy was ‘n mediese dokter en het van die sendingsgeleentheid gebruik gemaak om die vroue in Afghanistan van mediese sorg te voorsien. Hulle moes ondergronds aanbid en Werner was die eerste sendeling wat ‘n kweekskool in die land ontwikkel het. Sy vertel dat, aangesien mans nie vroue mag aanraak nie, moes sy die vroue doop. Sy het ook hulle voete gewas.

“Daar was baie uitdagings. Die taal was een van die grootste uitdagings omdat ons hulle nie kon verstaan nie. Vir my wat ‘n gerespekteerde amp in Suid-Afrika gehad het, was dit moeilik om te daal na die vlak van ‘n kameel, waar hulle hul vroue geplaas het. Die kinders se skoolopleiding was nóg ‘n uitdaging. Ek kon nie tuis onderrig nie, en om material te kry was moeilik, mar God het elke keer voorsien. Laastens was ons finansies ‘n uitdaging. Baie mense in Suid-Afrika vertel hulle sal vir ons geld stuur, maar dit gebeur nie gereeld nie. Ons moes leer om die Here te vertrou.”

Op 29 November 2014, word Werner en die twee kinders, asook die gesin se hond, koelbloedig vermooer en moes Hannelie wee opstaan uit die as. Haar kinders was onderskeidelik 17 (Jean-Pierre) en 15 (Rodé). Die aanvallers het ook die huis aan die brand gesteek.

“Ek was nooit kwaad vir God nie, maar het tog ervaar dat ek vir ‘n kort tydperk wegbeweeg het van God af; asof daar ‘n afstand ingetree het. Ek het gesukkel om te bid en het nie die konneksie met die Here ervaar wat voorheen daar was nie. Dit was eintlik ‘n natuurlike deel van die rouproses. Met tyd het dit beter geword, en ook deur die skryf van my boek en deel voor gehore het heling verder ingetree en kon ek dinge uit God se perspektief begin sien,” vertel sy.

Sy vertel dat sy gereeld motiveringspraatjies lewer en dat dit altyd sal seermaak om weer deur die foto’s en gebeure te gaan. “Dis om soos met ‘n amputasie te moet saamleef. Wanneer ek voor gehore staan dwing ek myself om nie emosioneel te raak nie, ek is baie privaat wat dit aanbetref. Om na hul foto’s te kyk, veral die foto’s wat geneem is in die jaar voor hul dood, is ‘n baie pynlike ervaring. Die rouproses raak nooit afgehandel nie, die pyn kom net met langer intervalle, maar wanneer ‘n mens stil raak en die lewe saam met hulle onthou, spoel droefheid soos ‘n vars groot golf oor jou wat oorweldigend is.”

Die finaliteit van wat gebeur het, het haar onmiddellik laat besef dat die hoofstuk verby is. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie.  Sy sou nooit weer haar lewe met haar gesin kon deel nie.

“Die besef dat ek nooit weer in Afganistan sou woon nie, het die dag na die aanval tot my deurgedring toe alles in ons huis tot as verbrand het en ek niks gehad het om in die tasse te pak nie. Dit was asof die Here dit vir my maklik wou maak om nie te bekommer oor hoe ek al ons besittings in Suid-Afrika sou kry nie. Die lewe is moeilik en as jy dink dat dit maklik gaan wees, moet jy weer dink. Jy gaan net negatief word.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button