Sakevrou se skielike dood laat talle in skok

‘n Statige vrou vol deernis, iemand wat altyd netjies en dinamies was en bereid was om te help waar sy kon. Só sal haar vriende en familie vir Louwra Fourie (68) altyd onthou.

POLOKWANE – Louwra is na ‘n kort siekbed, Maandag oorlede en los ‘n verslae familie na.
Haar kleindogter, Dané van Niekerk, vertel dat Louwra ‘n baie gesonde mens was.
“Sy was ‘n sterk mens en het altyd mooi na haarself gekyk. Sy het verlede Vrydag nie by die werk opgedaag nie, en toe die personeel na haar gaan soek het, het hulle haar in haar bed aangetref waar sy nie kon beweeg nie. Ons weet nie hoe lank sy daar gelê het nie. Sy was na ‘n hospitaal gehaas waar die dokters haar gediagnoseer het maar ons het haar laat oorplaas na ‘n ander hospitaal. Hierna het ons haar na Pretoria laat oorplaas.”
Sy vertel dat haar ouma die vorige aand slegs genoem het dat haar keel seer is, maar dat sy verder niks makeer het nie.
“Dokters sê sy het nierversaking gehad en septisemia.”
Louwra se dood is vir die familie ‘n groot skok aangesien sy blakend gesond was.
Sy het op 18 Februarie saam met haar ander kleindogter, Lara van Niekerk, dié se 21ste verjaarsdag gevier. Lara vertel dat sy dankbaar en tog ook hartseer is. “Hoe sê mens dankie vir ouma se oneindige liefde, omgee, geduld, drukkies, raad en ondersteuning. Ek is so dankbaar dat ons die kans kon kry om te groet. Ek is dankbaar dat ons laaste woorde aan mekaar kon wees dat ons lief is vir mekaar. Al was ek nie reg om totsiens te sê nie weet ek dit is deel van die Here se groter plan. Dankie vir letterlik alles oums, al die klere regmaak met ouma se goeie naaldwerktegnieke, die beskuit en koekbak, al die saam lag en ver saamstap op die strand, die saam deurnag legkaart bou en die saam huil as ons mekaar moet groet. Ek gaan Oumie so mis. Ek doen al klaar. Ek wens ek kon ouma nog een drukkie gee en nog een keer ouma se naels verf. Ek koester elke herinnering saam met ouma in my hart.”
Dané vertel dat haar ouma ‘n merkwaardige vrou was.
“Haar hare was altyd netjies en in plek, sy was altyd mooi aangetrek en het ‘n glimlag op haar gesig gehad. Ek was altyd so trots om langs Oumie te loop en te kon weet dis my ouma hierdie. Altyd maar altyd was ouma bereid om te help in enige situasie en ouma het my van soveel pakslae gered toe ek klein was. Oumie het in Oumie se lewe al baie hoogtes bereik, seer gehad, gelag, liefgehad, die wêreld gesien, sukses behaal, trane afgevee, pleisters geplak, seer kinderharte getroos, omgegee en bo slegte omstandighede uitgestyg. Oumie het ‘n vol lewe gehad. Ek is dankbaar dat ek 18 jaar deel kon wees daarvan. Dit was ‘n voorreg.”
Louwra was ‘n merkwaardige besigheidsvrou en eienaar van verskeie konsessiewinkels soos Debonairs, Fishaways en Giramundo. Sy was ook jare lank werksaam by Protea Hotel The Ranch Resort.
Een van die stad se inwoners, wat intussen verhuis het, Khell van der Lith, vertel op Facebook dat Louwra altyd onthou sal word as sy ander ma by Debonairs. “Ons het net goeie tye saam met julle gehad. Altyd ‘n glimlag op die gesig en ‘n regte vredemaker as ons drywers onder mekaar vasgesit het. Ek het tannie jare later weer by Cycad raakgeloop en tannie was nie ‘n dag ouer nie.”
Sy los haar twee kinders, drie kleinkinders en twee susters agter.
maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version