‘Hy was ‘n mens-mens’

Ronald Brunsdon (55), geliefde inwoner van die dorp is verlede Sondag opslag dood toe hulle bakkie vermoedelik in 'n ander voertuig se sleepwa vasgery het

MOKOPANE – ‘n Geliefde inwoner van die dorp is verlede Sondag opslag dood en sy werkskollega beseer toe hulle bakkie vermoedelik in ‘n ander voertuig se sleepwa vasgery het.

Die twee mans, Ludwig Lange (33) en Ronald Brunsdon (55) wat by ElecproElectrical Contractors werk, was van Modimolle na Mookgophong op pad toe die ongeluk gebeur het. Hulle het in die vroeë oggendure vanaf Pretoria na Mokopane gereis.

Die voertuig waarin Lange en Brunsdon gery het. Foto’s: Verskaf

Volgens Lange se vrou, Roelien, het haar man op die teerpad wakker geword en hy het nie dadelik besef dat hy in ‘n ongeluk was nie.

Hy sterk tans in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria aan.

Hy het snywonde opgedoen en ook sy sleutelbeen gebreek.

Ludwig Lange het snyplekke, skrape en ‘n gebreekte sleutelbeen tydens die ongeluk opgedoen.

“Ludwig is uit die motor geslinger wat seker die rede is dat sy lewe gespaar is.”

‘n Kleinniggie van Brunsdon, Judie Brunsdon, vertel hartseer dat hulle familie ‘n legende verloor het.

“My oom was nie getroud. Hy was lief vir die lewe en was in sy jonger jare vir 20 jaar in die lugmag. Daar het hulle hom as Brandstof geken. Dit was ook sy radio roepnaam. Hy was ‘n mense-mens en almal het hom liefgehad.”

Brunsdon het vir die afgelope twee jaar by Elecpro gewerk waar hy kantoor-administratiewe werk gedoen het.

Hy het oor naweke die natuur opgesoek en was lief vir visvang.

Sy roudiens vind Maandag om 14:00 by die Evangelies Gereformeerde Kerk in Kerkstraat plaas.

Judie vertel dat meeste van die familie tans op Mosselbaai woon.

“Hy was baie lief vir die see so ons sal sy as daar strooi wanneer die tyd reg is.”

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version