Local NewsNews

Beleggers in Choice Lifestyle dien aansoek in by Hooggeregshof

'n Aansoek is by die plaaslike Hooggeregshof ingedien vir 'n bevel om die maatskappy, Free Agape Enterprises (Edms Bpk), onder supervisie te plaas in terme van die Maatskappyewet se Artikel 131 (1).

POLOKWANE – Niel Venter, prokureur van Diamond Inc se aansoek namens ‘n groep kliënte sluit ook in dat ‘n plaaslike besigheidsreddingspraktisyn, Theo Meyer, as interim besigheidspraktisyn in terme van Artikel 131(5) van die wet aangestel word en dat koste van die aansoek vir die rekening van die besigheidsreddingsproses sal wees.

Choice Lifestyle Change, ‘n afdeling van Free Agape Enterprises (Edms Bpk), het na bewering oorbruggingsfondse verskaf aan ander maatskappye. Beleggers of lede van Choice Lifestyle het geld in dié maatskappy belê, waarvan hulle ‘n renteopbrengs van tot 15% per maand verdien het, tot die alleeneienaar en direkteur van Free Agape Enterprises, Maarten Stapelberg wat in Gansbaai gewoon het, in Desember oorlede is. Stapelberg was alleeneienaar van verskeie maatskappye en entiteite en, volgens inligting, voorheen van Polokwane.

https://www.citizen.co.za/review-online/231176/penarie-oor-agape-naam/

Hy het ‘n besigheidsvennoot gehad, Wouter Botha, wat in Polokwane woon. Botha blyk die alleeneienaar te wees van Choice Finance Consultants en mede-eienaar van Choice Lifestyle Change, afdelings van Free Agape Enterprises (Edms Bpk). Stapelberg was mede-eienaar van Choice Lifestyle Change.

Sy dood word ondersoek.

Lede het tot einde verlede jaar nog ‘rente’ op hulle beleggings gekry, sommige tot so laat as in Desember verlede jaar, maar daarna het die betalings opgedroog omdat Stapelberg blykbaar die enigste persoon was wat toegang tot die bankrekening gehad het en betalings kon doen. Sommige lede het reeds vroeër nie meer geld ontvang nie, óf hul geld laat ontvang, en Botha het glo aan hulle gekommunikeer dit was omdat Stapelberg siek en in die hospitaal is en die enigste een was met tekenregte.

Eerste Nasionale Bank (FNB) het in April 2017 al beweringe van onbehoorlike bankpraktyke teen die maatskappy gemaak terwyl die Reserwebank eers in Oktober en November verlede jaar inspekteurs aangestel het om die maatskappy en ook vir Stapelberg en Botha te ondersoek.

Die Reserwebank se ondersoek was geloods omdat vermoed is dat besigheid teenstrydig met die Bankwet gedoen word deur Stapelberg en of Botha. Teen dié tyd het mediaberigte reeds negatief oor die agterdogtige bedrywighede van Choice Lifestyle Change berig en die Finansiële Diensteraad het gewaarsku dat mense versigtig moet wees om met die maatskappy besigheid te doen, aangesien die maatskappy nie geregistreer is nie.

Plaaslike ‘lede’ wat vir Venter opdrag gegee het om die hof te nader het tussen R5 000 en R400 000 in die maatskappy ‘belê’, maar daar is diegene wat miljoene staan te verloor. Die maatskappy se bates het glo op R450 miljoen gestaan wat deur lede inbetaal is om as ‘oorbruggingskapitaal’ gebruik te word. Die maatskappy het belowe om gelde op aanvraag terug te betaal, maar ‘n brief wat Venter namens sy kliënte aan Free Agape Enterprises (Edms Bpk) geskryf het om hulle gelde terug te vra aan die begin van die maand, is beantwoord deur ‘n prokureursfirma in Pretoria wat skryf dat geen gelde uitbetaal kan word nie aangesien Stapelberg die enigste persoon was met tekenregte tot die bankrekening. Alle rekords van die maatskappy is glo ook in die besit van inspekteurs van die Reserwebank.

Volgens Venter het hy die aansoek by die hof ingedien omdat sy kliënte nie wil wag tot die boedel beredder word nie.

“Hulle het instruksies gegee dat ‘n besigheidsreddingspraktisyn aangestel word omdat dié dan as direkteur kan optree en binne dae kan uitvind wat van die kliënte se geld geword het. Die persoon moet binne 10 dae met die krediteure vergader en terugvoer gee. Hy kan in die tyd al bankstate aanvra en vasstel of die geld nog in die bank is of na ander rekeninge gekanaliseer is.

“Die kliënte kan ‘n komitee vorm en kan dan opdragte gee aan die besigheidsreddingspesialis oor wat om te doen. Anders as om te wag vir die boedel, waar slegs ‘n paar mense se geld dalk uitbetaal kan word, sal elkeen ‘n gelyke tyd en kans hê om eise in te dien tydens besigheidsredding.

“Dit is tot voordeel van alle belanghebbende partye en skuldeisers as ‘n besigheidsreddingpraktisyn aangestel word,” sê Venter.

Botha het in ‘n e-pos aan lede op 22 Februarie gesê: “Several members are inquiring about a mail that they received from Diamond Inc. Attorneys about the firm acting on behalf of certain members to put the business under business rescue. It has nothing to do with the process we are busy with. We are still awaiting feedback from ABSA regarding our lawyers request for an urgent meeting with the person to be appointed as the executor to Mr Stapelberg’s estate. As soon as this info is received our Lawyer will inform all (sic)”.

Dié e-pos wat Botha op 21 Februarie aan lede gestuur het met ‘n brief van hulle prokureurs, VFV Attorneys, waarin die prokureur aan Botha bevestig dat hy met ‘n verteenwoordiger van die Absa Trust, wat as eksekuteur genomineer was in Stapelberg se boedel, kontak gemaak het.

Die brief sê ook dat hulle alle pogings sal aanwend om die aanstelling van ‘n eksekuteur te bespoedig en dat die prokureur intussen met die verteenwoordiger gereël het om ‘n dringende vergadering te skeduleer om die pad vorentoe te bespreek.

Botha het Review na sy prokureur, Geoff Ferreira, verwys maar pogings om hom te kontak was onsuksesvol omdat die prokureur, volgens sy kantoor, eers Maandag weer terug op kantoor sou wees.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button