Local NewsNews

AfriForum wen vullisterrein-saak, verseker veilige water

Die burgerregteorganisasie, AfriForum se Mookgophongtak het verlede Woensdag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof'n hofsaak teen die Lim 368 Plaaslike Munisipaliteit gewen rakende die swak wyse waarop die dorp se vullisterrein bestuur word.

LIMPOPO – AfriForum het die hof reeds in 2016 genader nadat talle klagtes van die inwoners ontvang is oor die swak bestuur en toestand van die vullisterrein. Die vullisterrein het ook nie aan die lisensievereistes voldoen nie, wat lei tot die besoedeling van grondwater. Die hofsaak is op 10 Oktober 2017 aangehoor en uitspraak is voorbehou.

In die hofstukke het AfriForum gevra dat die munisipaliteit die vullisterrein op standaard moet bring soos deur die lisensie vereis word.

Die hofbevel bepaal dat:

• Alle vullis op ‘n omgewingsvriendelike wyse verwyder word.

• Dreineringsisteme moet gebou word om afloopwater van die vullisterrein te skei en te herlei.

• Binne vyf dae van die hofbevel moet watertoetse by alle boorgate, strome en riviere gedoen en na geakkrediteerde laboratoriums gestuur word vir ontleding.

• Toetse van die loogwater moet op die vullisterrein self gedoen en na ‘n geakkrediteerde laboratorium gestuur word vir ontleding.

• ‘n Operasionele plan, wat verduidelik hoe rehabilitasie van die vullisterrein gaan geskied, moet binne 60 dae opgestel word.

• Goeie toegangsbeheer, asook toepaslike kennisgewingborde by die vullisterrein soos deur die lisensie uiteengesit, moet binne twee weke daargestel word.

• Die vullisterrein moet binne een jaar omhein wees soos deur die lisensie uiteengesit.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se Distrikskoördineerder vir Limpopo, is die uitspraak ‘n besliste oorwinning, maar hy sê ook dat daar voortdurend druk op die munisipaliteit geplaas moet word om gunstige resultate te verseker.

“Dié hofuitspraak verplig die munisipaliteit om die vullisterrein op te skerp, maar dit is ons werk om toe te sien dat dit op ‘n volhoubare wyse geskied. Die uitspraak is ook ‘n goeie rigtingwyser vir ander gemeenskappe, wat dieselfde probleme ervaar, om op te staan vir hul regte en munisipaliteite verantwoordelik te hou om hul pligte na te kom. AfriForum is verheug oor die hofuitspraak en sê dit versterk ook die organisasie se jaarlikse vullisterreinouditprojek wat juis die oorsprong was van hierdie hofaansoek. AfriForum sal toenemend druk op die munisipaliteit plaas om seker te maak dat die hofbevel nagekom word,” sê Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button