Local NewsNews

Brandstigter skep plofbare situasie in park

Terwyl ‘n klaarblyklik geestesversteurde leeglêer die afgelope twee weke amok maak en grootskaalse skade aanrig deur bome en vullis in die RSA-park vir geen rede aan die brand steek, blyk dit dat bekommerde inwoners en besigheidseienaars se pleidooie by die polisie om die man aan te keer op dowe ore val. Benewens die ou volgroeide …

Terwyl ‘n klaarblyklik geestesversteurde leeglêer die afgelope twee weke amok maak en grootskaalse skade aanrig deur bome en vullis in die RSA-park vir geen rede aan die brand steek, blyk dit dat bekommerde inwoners en besigheidseienaars se pleidooie by die polisie om die man aan te keer op dowe ore val.
Benewens die ou volgroeide bome wat in die park langs Thabo Mbeki­straat, naaste hoek Dahlstraat, vernietig word en gepaardgaan met stank, rook en roet wat in huise en besighede in die omgewing waai, weet niemand wat volgende in sy visier gaan wees nie.
“Die man dwaal die afgelope twee weke in die park rond en steek al wat ‘n boom is aan die brand. Een van die ou groot bome het reeds gevrek en omgeval en dié stomp word ook tydig en ontydig aan die brand gesteek. Om dinge te vererger, haal hy vullis uit die vullisdromme om die vuur te stook,” sê ‘n besigheidseienaar, wat anoniem wil bly en al met brandblussers die vlamme probeer blus het.
Die booswig is gesien toe hy op een plek begin vuur maak en dan op verskeie ander plekke in die park die gras aan die brand steek. Vyf bome, wat groot palmbome insluit, is tot dusver deur die booswig aan die brand gesteek en een van die palmbome het reeds gevrek.
“Ons het telkens die brandweerdiens geskakel wat vinnig op die toneel was en die bome geblus het, maar die twee keer wat ons die polisie geskakel het om die man te verwyder het geen vrugte afgewerp nie. Die operateur by die Westenburg polisie­stasie het telkens gesê hulle sal ‘n voertuig stuur wat nooit opgedaag het nie,” sê hy. Tydens vorige geleenthede het die brandweerpersoneel glo die man probeer aankeer, maar hy het hulle ontglip.
Vroeg Maandagaand was twee bome weer in ligte laaie. “Die brandweer is ontbied en het binne minute opgedaag om die vlamme te blus. Ons grootste bekommernis is dat die man dalk besluit om geboue aan die brand te steek. In die winter sal hy waarskynlik die hele park afbrand as die gras droog is,” meen die inwoner.
Met Polokwane Observer se aankoms Dinsdagoggend het van die bome steeds gesmeul en die man wat glo vir die brandstigting verantwoordelik is, het rustig op ‘n smeulende stomp gesit.
By navraag het die provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe gesê die klaer moet ‘n saak by die polisie aanhangig maak, waarna hulle dit dan sal hanteer. “Brandstigting is ‘n kriminele oortreding en ‘n booswig sal vervolg word,” sê hy.

Storie & foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Die ou groot boom het omgeval nadat dit aan die brand gesteek is.
Swart roet en wit as aan byna elke boom kenmerk die booswig se dade.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button