Professor Ernie Mocke se laaste serenade

Professor Ernie Mocke het laas Sondag in 'n plaaslike hospitaal gesterf.

POLOKWANE – Sy vrou, Jenny, vertel dat hulle hom die dag sou gaan haal het om huis toe te gaan nadat hy Vrydag in die hospital opgeneem is toe sy bene skielik lam geword het. Hy was 74 jaar oud en was lank reeds siek. Hy het diabetes gehad en sy organe het ingegee. Veertien jaar gelede het hy hartsjirurgie ondergaan (‘n hartomleiding) en hartversaking sedert sewe jaar gelede het tot swak gesondheid die afgelope jare gelei. Sy niere het uiteindelik ingegee en het sy dood veroorsaak.

Die Mockes is bekendes in die stad en woon reeds 38 jaar hier.

Ernie het ‘n doktorsgraad in opvoedkunde gehad en was ‘n professor in opvoedkunde by die Universiteit van die Noorde en later, toe dit hernoem is, die Universiteit van Limpopo. Hy het 10 jaar gelede afgetree.

Sy seun, Ernest, beskryf sy pa as liefdevol, sorgsaam, altyd bereid om te help, begripvol ‘understanding’, eerlik en intelligent. Sy herinneringe aan sy pa sal draai rondom Ernie se sangstem en sy blou-blou oë, sy goeie advies wat hy gegee het en sy wysheid.

Vir Jenny was hy ‘n sagte mens, lief vir diere, liefdevol, lief vir sy gesin, ‘n mense-mens. Ernie se stokperdjies was musiek en sang en hy was baie lief vir die natuur en het graag die Kruger Nasionale Park besoek.

“Musiek was sy passie, en hy het ook plate gemaak. Hy was lief vir ligte Afrikaanse musiek, asook klassieke musiek.”

Jarelange vriend en oud-kollega Marius Liebenberg sê Ernie laat net goeie herinneringe na. Hulle kom ‘n lang pad saam, hul was saam studente en het dikwels die damesstudente ge-‘serenade’.

“‘n Mooi Christenmens, met ‘n wonderlike sangstem. Jare gelede was hy baie teleurgesteld toe die kerk nie ghitare in die kerk wou toelaat nie. Ek sal nooit vergeet ‘n paar jaar gelede toe hy by die stadion, voor duisende mense, tydens ‘n interdenominale byeenkoms Houtkruis gesing het met sy mooi stem nie. Dit was aangrypend. Hy het ‘n ongelooflike kennis oor remediëring in onderwys gehad,” sê Marius. Hy beskryf sy dood as hartseer, “maar die beloop van die lewe”.

Ernie laat benewens sy vrou, Jenny en Ernest, wie aanstaande maand trou, nog drie seuns en hul gades na: Dawie, Chris en Edwin, wie tans in Amerika woon. Daar is ook sewe kleinkinders wat hulle oupa gaan mis. Jenny wil graag almal wat die familie ondersteun en medelye betoon het, bedank, en in besonder haar seun Ernest wie in Polokwane bly en haar besonder onderskraag en van hulp is met praktiese dinge gedurende die moeilike tyd.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version