Local NewsNews

Vier kluise in 14 dae by vulstasies opgeblaas

In die jongste vlaag voorvalle waar rowers vulstasies teiken en onder meer val­kluise opblaas, het rowers gister na 02:00 op Elegant Fuel in Marshallstraat en kort daarna op Sasol Peninapark toegeslaan. ‘n Werknemer by Elegant Fuel vertel dat ‘n personeellid besig was om voorraad in die winkel te tel toe ‘n gewapende man met ‘n …

In die jongste vlaag voorvalle waar rowers vulstasies teiken en onder meer val­kluise opblaas, het rowers gister na 02:00 op Elegant Fuel in Marshallstraat en kort daarna op Sasol Peninapark toegeslaan.
‘n Werknemer by Elegant Fuel vertel dat ‘n personeellid besig was om voorraad in die winkel te tel toe ‘n gewapende man met ‘n klapmus hom oorval het. Hy is deur een van die rowers gedwing om op die grond te lê waarna op sy kop getrap is. “Die aanval was barbaars,” het die assistent-bestuurder, Isaac Malebogo aan Polokwane Observer gesê.
Die ander gewapende met ‘n klapmus het terselfdertyd die kombuispersoneel gedwing om plat te lê terwyl hy hulle aangehou het.
Volgens Celia Spaumer, algemene bestuurder, het gewapende mans daarna twee valkluise opgeblaas en met ‘n onbekende bedrag geld op die vlug geslaan. Die impak van die ontploffing het die dak van die gebou beskadig en vensters gebreek. Die rowers het glo ‘n wit BMW en ‘n ligblou Toyota Coralla met vervalste nommerplate gebruik en is klaarblyklik vandaar na Sasol Peninapark waar dieselfde modus operandi gevolg is.
Volgens inligting was die polisie vinnig op die verdagte voertuie se spoor na die insident by Sasol. ‘n Jaagtog in die rigting van Mankweng het gevolg, maar die verdagtes het glo die polisie naby Nobody ontglip. Die eienaar van Elegant Fuel, Frank Hislop, het op die toneel groot lof vir die flink optrede van die polisie se forensiese eenheid gehad.
“Hulle was binne minute op die toneel en hul optrede was uiters professioneel,” het hy gesê en bygevoeg dat hy dankbaar is dat niemand beseer is nie. Besigheid is later die oggend hervat.
Provinsiale polisie­woordvoerder, Moa­tshe Ngoepe het beide voorvalle bevestig.
Total Nobody
Op 24 Januarie is Total Nobody se personeel aangehou terwyl die valkluis oopgeskiet en die rowers met ‘n onbekende bedrag geld gevlug het.
Total Thabo Mbeki
Vyf dae na die voorval by Total Nobody het rowers sowat R6 000 uit die kasregisters by Total Thabo Mbeki­straat gesteel. Hier het hulle ook die val­kluis opgeblaas en met ‘n onbekende bedrag geld gevlug.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
Foto: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Related Articles

Back to top button