Jong boerenooi wys haar saketalent

Om jou eie velsorgreeks op 11-jarige ouderdom te hê wil gedoen wees en Niah Malan skroom nie om haar sakevernuf vir die wêreld te wys nie.

MOKOPANE – Niah se velsorgreeks, Boeremeisie Beeldskoon het nie net verlede jaar vir haar ‘n vyfde plek in Afriforum se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie besorg nie, maar sy is nou ook ingekryf vir ‘n Tinteltong toekenning.

Niah se ma, Tanya, vertel opgewonde aan Bosveld dat die burgerorganisasie, Afriforum, haar gekontak het en hulle Niah se produk wat ‘n hoë kwaliteit natuurlike velsorgreeks is, ingeskryf het vir ‘n Tinteltong toekenning.

Niah het ‘n maatskappy gestig met die naam van Boeremeisie Beeldskoon en die produk is onder die kategorie ingeskryf vir innoverende produk, en kompeteer teen bekende handelsname.

“Ons is oneindig dankbaar vir geleenthede soos dié.

“Dit help Niah onsaglik baie om te groei in die besigheidswêreld.”

Die Tinteltong toekenning onder Afrikaans-Vriendelik is ‘n inisiatief van AfriForum, waar verbruikers sakeondernemings op ‘n webplatform opspoor.

Afrikaans-Vriendelik is nie net vir Afrikaanse ondernemings nie, maar ook vir Engelse besighede wat hulle dienste ook in Afrikaans aanbied. Dié platform is nie net tot voordeel van verbruikers en ondernemers nie, maar tot voordeel van Afrikaans.

Die Tinteltong toekenning vind plaas op 21 Februarie, ter viering van Internasionale Moedertaaldag, aangebied deur AfriVriendelik in samewerking met AfriForum.

Tanya sê Niah het die hele omgewing se ondersteuning nodig en daar kan aanlyn gestem word vir haar besigheid, Boeremeisie Beeldskoon op die volgende skakel: https://www.afrikaansvriendelik.co.za/tinteltong-toekenning/. As jy klaar gestem het voltooi jou besonderhede onder aan om jou stem geldig te maak.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version