Local NewsNews

Dottie Pinn groet bloedbank na 25 ‘pret en plesier’-jare

Dottie het in Januarie aangekondig dat haar seisoen by die bloedbank nou tot 'n einde gekom het.

POLOKWANE – Die 25 goue jare wat Dottie Pinn aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens verbonde was, was vir haar slegs “pret en plesier”.

Dottie het in Januarie aangekondig dat haar seisoen by die bloedbank nou tot ‘n einde gekom het.

“My nessie is nou warm gesit en dit is tyd dat ek my vlerke sprei. Ek gaan nou sweef totdat ek die regte nes vind en beplan om dan vir die volgende 25 jaar in my nuwe nessie te wees.”

Dottie het plaaslike as die skakelbeampte by die SANBD gedien en vertel dat dit te danke was aan haar pa dat sy destyds die werk gekry het.

“Ek was in my laaste jaar op skool toe ek eendag saam met my pa gegaan het waar hy bloed gaan skenk het.

“Die bestuurder van die bloedbank destyds het gevra wat my planne na skool is en aangesien daar nie geld was om te gaan studeer nie, het ek gesê ek beplan om administratiewe werk te soek.

“Hy het ‘n advertensie vir ‘n pos by die bloedbank voor my neergesit, ek het aansoek gedoen en slegs ‘n paar dae na ek my laaste vak geskryf het, begin werk.”

Sy vertel dat wanneer ‘n mens ‘n passie het om te wil werk, kan jy ‘n verskil maak, maak nie saak waar jy is nie.

“Ek neem alles wat ek geleer het, en al my kennis saam met my.”

Dottie sê dat sy nou gaan afskaal “in hoofletters”.

“Ek wil iets doen wat my meer tyd gaan gun saam met my jongste twee seuns, Shanon en Damian, wat nou onderskeidelik in gr.11 en gr.12 is.

“My oudste seun, Jaycey, studeer tans en ek het besef dat ‘n mens baie tyd saam met jou familie verloor as jy jou beroep najaag.

“Ek wil meer ma vir my kinders en vrou vir my man, Gordon, wees.”

Sy vertel dat die besluit om haar vlerke te sprei nie ligtelik geneem is nie.

“Hierdie besluit kom oor maande. Dit is heel toevallig dat my pa vroeg in Desember oorlede is en dat hy na aan die einde bloed nodig gehad het. Die era het saam met my pa begin, en eindig ook saam met hom.”

Dottie onthou dat daar sekere gebeure is wat uitstaan in haar loopbaan.

Een daarvan is die gemeenskap wat saamgestaan het toe Alex van Dyk destyds na ‘n ernstige ongeluk bloed benodig het.

“Daar is sekere situasies wat jou ewig bybly, daar waar jy kan sien ‘n verskil gemaak is. Om ‘n skenker te wees beteken jy is ‘n besonderse mens wat tyd maak vir ander mense.

“Van 25 jaar het ek baie herinneringe en is ek deur ongelooflike leerprosesse. Een ding wat konstant is by die bloedbank, is die gedurige verandering. Dit het my geleer om aan te pas en deur te druk. Dit is nou tyd vir iemand anders om oor te neem met vars idees.”

Sy benadruk dat dit nie gaan oor wie die werk doen, die telefoon optel, of die naald in ‘n skenker se arm druk nie, maar dat die fokus moet bly op die ontvangers.

“As jou fokus reg is, kan jy ‘n pasiënt help. My wens is dat mense nie moet vaskyk in die persoon wat weggaan nie, maar steeds hul goeie dade doen.”

Sy vertel dat sy die onselfsugtige mense wat vrylik van hulleself gee, die meeste sal mis.

“Ek gaan hulle gesindheid mis en ook my besigheidskontakte. Dit verg ‘n besonderse mens om ons firma in hulle maatskappy te laat ingaan en alles deur mekaar te krap vir een dag.

“Waar daar egter ‘n einde is, is daar ‘n begin. Ek wil dieselfde hoeveelheid passie in my nuwe beroep sit.”

Sy lag wanneer sy vertel dat daar nog nie iets definitief op die horison is nie.

“Ek is nie desperaat om dadelik iewers te begin werk nie. Ek wil eers balans in my huis bring.

“Ek wil fokus op dit wat belangrik is en meer tyd aan my familie spandeer.

“Ek is ook besig om te leer viool speel en geniet dit om kreatief te wees.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button