Local NewsNews

‘Vervalle museum kort weer regruk’

Die eens spoggerige museum wat die ryk geskiedenis van die dorp en omgewing uitbeeld is vervalle, oorgroei met bosse en grasse en geen aanwins vir die toerismebedryf nie.

MOKOPANE – Die Arend Dieperink Museum in Thabo Mbekirylaan se gevalle terrein en gebou het Maandag onder die vergrootglas gekom danksy DA raadslid, Yolande Coetzee se inisiatief om die museum weer ‘n lus vir die oog te maak.

Dit is duidelik geen instandhouding word tans daar gedoen nie. Tydens ‘n oorsiginspeksie was gevind dat daar nie besems, moppe of skoonmaakmiddels is om die plek skoon te maak nie.

Andy Goetsch (Mokopane Besigheidskamer, President) en Yolande Coetzee (DA Raadslid van die Mogalakwena Munisipaliteit) langs antieke implemente wat toegegroei is.

Coetzee vertel sy het die Mokopane Besigheidskamer ‘n tydjie gelede vir hulp genader.

“Ek het met Andy Goetsch, President van die Mokopane Besigheidskamer, gesels om te sien of ons nie weer die museum tot sy volle glorie kan herstel nie. Goetsch het dadelik ingestem en saam met my ondersoek ingestel en die Besigheidskamer se lede genader vir hulp.”

Volgens Coetzee het hulle reeds hulp gekry en begin die groot skoonmaakproses gedurende die week.

“Fire Quip het aangebied om die brandblussers te diens, noodborde te herstel en pype na te gaan. Modern Service Station het goedhartig die terrein aangeneem en sal dit voortaan onderhou tot en met daar ‘n alternatiewe oplossing gekry is of tot die munisipaliteit se toerusting weer in werkende toestand is. Die toilette sal ook herstel word deur Modern Service Station.

Vullis lê tussen langgras waar ‘n lowergroen grasperk eens was.

Working on Fire sal die bome kom snoei en die gras sny gedurende die week en op ‘n latere stadium die onkruid wat in die paadjies groei met gif spuit.”

Coetzee sê daar kort nog baie geld en vra die hulp van besighede. “Daar kort nog verf vir verskeie implemente, vloere en deure. Die badkamers moet opgeknap word en deurhandvatsels word benodig.”

Coetzee sê in die stadium kan besoekers nie die toiletgeriewe gebruik nie en is dit ‘n groot probleem. “Ons moet onthou dat dit ons dorp se erfenis is wat deur toeriste besoek word en ook deur leerders van verskeie skole. In die stadium sak ek my kop in skaamte oor die beeld wat ons dorp uitdra.”

Besighede en inwoners wat wil betrokke raak by die projek kan Coetzee kontak by 079 273 7986.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button