Local NewsNews

Plastiekvry pak dié sibbe lewe aan om natuur te red

Het jy al ooit gewonder hoe moederaarde werklik gered kan word van besoedeling? Dit is nie maklik nie en kan ook nie in 'n oogwink gebeur nie, maar Melize en Hannelie van der Walt het 'n goeie idee vir 'n plastiekvrye leefstyl.

MOKOPANE – Besoedeling is ‘n hartseer realiteit op land, lug en see wat die toekoms nie rooskleurig laat lyk nie. Plastiek dryf in die see rond waarvan veral strooitjies regoor die wêreld in die nuus is as een van die top 10 items wat op strande gevind word. Verskeie anti-strooitjie bewegings is op die been gebring en talle restaurante gaan so ver as om die gebruik daarvan te verban.

Volgens The Weather Network gebruik die wêreld vyf biljoen onherwinbare strooitjies ‘n dag wat die oseaan vrot besoedel. Een van die drywende hoop plastiek in die see genaamd die ‘North Pacific Garbage Patch’ is twee keer die grote van Texas, VSA.

Hannelie en Melize van der Walt probeer om slegs produkte wat in karton en papier verpak word te koop.

Melize sê sy wil ook ‘n verskil maak, al is dit klein. “My man en drie seuns staan bankvas agter my. Ons koop glad nie produkte met plasiek wat ons nie weer kan gebruik nie. Dit is vreeslik moeilik want amper alles word in plastiek verpak.”

Sy vertel dat sy by ‘n bekende groente en vrugte winkel haar brood in papiersakke koop en by ‘n bekende slaghuis in die dorp haar eie bakke saamvat om vleis in te weeg en te koop. “Mense kyk my snaaks aan wanneer ek met my bakke en papier- of materiaalsakke rondloop maar ek gee nie om nie. Dit is vir my belangrik.”

Wanneer sy gaskoeldrank koop, koop sy slegs die wat in glasbottels voorkom of gebruik sy haar Soda-Stream’er by die huis om koeldrank te maak. “Dit was vir my vreeslik moeilik toe my kinders teruggaan skooltoe want toe kon ek nie meer Tinkies of lekkers inpak nie. Dit moes biltong en vrugte wees. Strooitjies is ook ‘n groot nee in ons huis en my kinders weet presies waaroor alles gaan. Ek wys vir hulle diere wat seerkry en doodgaan as gevolg van besoedeling sodat hulle die erns kan besef. Ek voel as ek my kinders leer om platiekvry te lewe sal hulle ook eendag in hul gesinne so leef.”

Melize meen dat dit gaaf sal wees as meer winkels plastiekvry word en veral wegdoen met plastieksakke en eerder papiersakke gebruik.

Hannelie vertel dat sy eintlik van kleintyd af van herwinning hou en dat sy selfs op skool ‘n trofee daarvoor ontvang het.

“Ek is tans besig om ‘n herwinningsprojek op die been te bring saam met die SAVF. Ek doen dit nie net vir die geld nie, maar ook sodat ons land kan begin herwin en ophou plastiek gebruik.”

Sy sê sy koop nie meer plastieksakke nie. “My dilemma was dat ek dit koop sodat ek dit kan gebruik vir die honde ontlasting.

“Ek het agt honde, jy kan dink hoe baie moet ek optel. Ek het intussen ‘n maatskappy in die hande gekry by wie jy ‘n ‘composter’ kan koop. Dit verteer die ontlasting en jy gebruik dit dan in jou tuin as kunsmis sonder reuk. Saam met dit kan jy ook jou kombuis afval gooi.”

Hannelie gee ook ‘n paar wenke aan lesers wat plastiekvry wil gaan:

• Koop geen plastieksakkies nie. Vat jou eie sakke saam. Ook by apteke moet jy sakkies saamvat vir pille.

• Wegneem etes: gaan haal dit self en vat jou eie houer/bak tensy dit pizza is wat in karton verpak is.

• Kruideniersware: Probeer om items te koop wat in glas of karton verpak word.

• Kry ordentlike waterbottels wat jy vul wanneer jy nodig het. ‘n Goeie plastiek-of glasbottel sal perfek werk.

• Herwinningsdromme is baie belangrik. Elke drom dien vir ‘n spesiefieke materiaal – glas, papier en plastiek.

• Soveel ou materiale kan weer omskep word in oulike versierings of weer gebruik word. Gebruik jou kreatiewe denke.

Indien jy vrae het of belangstel kontak Melize of Hannelie by 082 772 6353 of 082 734 0779.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button