Valke gryp verkeer: Tien beamptes vas op aanklagte van korrupsie

Die Polokwane verkeersdepartement is Dins­dag tot stilstand gedwing toe die Limpopo Valke tydens operasie Siyabangena twee verkeersbeamptes op aanklagte van korrupsie op die perseel aangekeer het. Verkeer het by die hoofingang in Vermikulietstraat opgehoop nadat die hekke gesluit is om die Valke toe te laat om hul pligte uit te voer. “Alles het tot stilstand …

Die Polokwane verkeersdepartement is Dins­dag tot stilstand gedwing toe die Limpopo Valke tydens operasie Siyabangena twee verkeersbeamptes op aanklagte van korrupsie op die perseel aangekeer het.
Verkeer het by die hoofingang in Vermikulietstraat opgehoop nadat die hekke gesluit is om die Valke toe te laat om hul pligte uit te voer.
“Alles het tot stilstand gekom toe die Valke glo die twee beamptes ingewag het. Ek vermoed die beamptes het iewers omkoopgeld aanvaar en die Valke is in kennis gestel. Toe die beamptes hul voete op die perseel sit, is die hekke toegemaak en hulle is gearresteer,” sê die bron wat op die toneel was en bevestig het dat daar minstens drie voertuie van die Valke op die perseel was sowel as verskeie gewapende polisielede.
Die Valke se woordvoerder, Matimba Maluleke sê twee munisipale en agt provinsiale verkeersbeamptes is Dinsdag in die stad en in Mankweng in hegtenis geneem. Die arrestasie is deel van operasie Siyabangena wat daarop fokus om bedrog en omkopery onder verkeersbeamptes in Limpopo hok te slaan.
“Die operasie het in Desember begin toe 20 beamptes, waarvan drie tydelike aanstellings was, in en om Tzaneen op aanklagte van beweerde korrupsie aangekeer is,” sê Maluleke.
Die beamptes sou na verwagting gister (Woensdag) in die Polokwane en Mankweng landdroshowe op aanklagte van korrupsie verskyn.
Maluleke het gewaarsku dat operasie Siyabangena regoor die provinsie sal voortduur.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version