Boere pessimisties oor ANC se grondhervormingsplanne

Boere in Limpopo is diep besorg oor die rigting wat die African National Congress (ANC) ingeslaan het rondom onteïening sonder vergoe­ding. Willem van Jaarsveld, hoof-uitvoerende beampte van Agri Limpopo, sê in ‘n mediaverklaring dat dit hoegenaamd nie met die doelstellings van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) rym nie. “Die NOP is by wyse van ‘n soortgelyke …

Boere in Limpopo is diep besorg oor die rigting wat die African National Congress (ANC) ingeslaan het rondom onteïening sonder vergoe­ding.
Willem van Jaarsveld, hoof-uitvoerende beampte van Agri Limpopo, sê in ‘n mediaverklaring dat dit hoegenaamd nie met die doelstellings van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) rym nie.
“Die NOP is by wyse van ‘n soortgelyke resolusie deur die ANC by sy 2012-konferensie in Mangaung as beleid aanvaar. Die nuutste resolusie oor grond skiet inteendeel juis die strewe na werkskepping, investering en ekonomiese groei, soos bedoel in die NOP, in die voet.”
Volgens Agri Limpopo is beleidsonsekerheid een van die grootste struikelblokke in die weg van ekonomiese groei en die ANC het by uitstek deur sy resolusie oor onteïening sonder vergoeding, omvattende verwarring en beleidsonsekerheid gesaai. “Limpopoboere, wat reeds sedert 2012 op die voorpunt van die implementering van die Hoofstuk 6 grondhervormingsmodel van die NOP staan, het tans geen duidelikheid of selfs rigtingwysers oor die mees basiese vrae wat enige belegger sou vra nie. Dié onsekerheid is dodelik vir beleggersvertroue en sal in die landbougedrewe ekonomie van Limpopo ‘n vernietigende impak op werkskepping hê wat armoede tot nuwe vlakke sal laat styg,” sê Van Jaarsveld.
Hy sê dat boere in die provinsie veral verstom is dat die ANC glo dat dieselfde ramp­spoedige beleidsrigting wat die Zimbabwiese ekonomie, geldeenheid en sosiale kohesie vernietig het, in Suid-Afrika ‘n ander uitkoms sal hê.
Volgens Agri Limpopo hoef Suid-Afrika nie die pad van Zimbabwe te stap nie. “Ons kan grondhervorming laat werk en in een geslag ‘n klas van welvarende swart boere skep bloot deur die grondhervormingsmodel van die NOP toe te pas,” sê Van Jaarsveld.
“Agri Limpopo doen ‘n beroep op die ANC en die regering om hul volledige aandag te fokus op die produktiewe benutting van landbougrond en op te hou om populistiese uitsprake oor grond te gebruik vir politieke gewin. Produktiewe benutting van grond sal foute van die verlede regstel en help dat die ekonomie en voedselsekerheid nie skade ly nie. Gesprek met landbouleiers in hierdie verband sal die sleutel tot grondhervormingsukses wees.”
ANC provinsiale sekretaris, Nocks Seabi, kon nie teen druktyd bereik word vir kommentaar nie.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Exit mobile version