Local NewsNews

Boendoegeweld – 2 in put gegooi

Die nuutste voorval van beweerde boendoegeweld waartydens twee mans Sondag deur gemeenskapslede in Moletjie net buite die stad vermoedelik in ‘n diep waterput gegooi is nadat hulle van ‘n reeks misdade in die omgewing beskuldig is, is deur provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba, as onmenslik en barbaars beskryf. Nooddienste moes dringend ontbied word om die mans …

Die nuutste voorval van beweerde boendoegeweld waartydens twee mans Sondag deur gemeenskapslede in Moletjie net buite die stad vermoedelik in ‘n diep waterput gegooi is nadat hulle van ‘n reeks misdade in die omgewing beskuldig is, is deur provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba, as onmenslik en barbaars beskryf.
Nooddienste moes dringend ontbied word om die mans van verdrinking te red.
Provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo sê die twee mans is in die Ga-Mabiloane nedersetting gewaar waar gemeenskapslede vinnig ‘n groep gevorm en hulle aangeval het. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle vir ‘n reeks inbrake waar televisiestelle gesteel is verantwoordelik is.
Die mans is aangerand en in die put, wat voorheen water aan die gemeenskap voorsien het, gegooi.
Die polisie is van die voorval in kennis gestel en het vinnig gereageer. Met hulle aankoms kon die twee mans steeds in die put gesien word en nooddienste is ontbied. Die twee is uitgehelp en na ‘n hospitaal vir behandeling vervoer.
Mojapelo sê in ‘n afsonderlike voorval is twee mans die naweek in Makhurumela-nedersetting buite Maleboho ook deur ‘n groep ontvoer en aangerand. Beide kon deur die polisie gered word, maar een het later in ‘n hospitaal aan sy beserings beswyk.
Ledwaba het gesê die polisie veroordeel boendoegeweld ten sterkste en sal onverpoos werk om die verantwoordelike persone aan die pen te laat ry. “Mense wat die reg in eie hande neem sal die gevolge moet dra,” het hy gewaarsku.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button