Beste onnies beloon vir hul harde werk

Nie net het Waterberg High School, Hoërskool Piet Potgieter en Hoërskool Hans Strijdom se 2017 matriekleerders uitgeblink in hul matiekuitslae nie, maar het dié drie skole ook presteer tydens die Waterberg Distrik prysuitdeling wat verlede Vrydag plaasgevind het.

POLOKWANE – Waterberg High het ‘n trofee ontvang as die skool met die hoogste aantal leerders met universiteitsvrystelling in die distrik. ‘n Trotse 66,7% van die skool se leerders het met ‘n toelating tot Baccalaureusgraadkursus geslaag.

Khomotso Radebe, wat met ses onderskeidings weggestap het, het ‘n agtste posisie in die distrik opgeraap. Onderwyser Altie Meyer het ‘n toekenning vir geografie ontvang omdat die uitslae in haar vak die hoogste gemiddeld van 61,5% gehad het.

Altie Meyer van Waterberg High School spog met ‘n trofee vir geografie.
Foto: Verskaf.

Hoërskool Piet Potgieter se hardwerkende onderwysers is ook beloon. Carina Vorster het ‘n vakprys vir wiskunde ontvang, Mimi Pretorius ‘n vakprys vir Engels eerste addisionele taal en Mariëtte Grové ‘n vakprys vir besigheidstudies. Dié skool se top presteerder wat met sewe onderskeidings spog, Kurt Kruger, het ‘n vakprys vir fisiese wetenskap en biologie ontvang. Bianca Koekemoer het ‘n vakprys vir rekeningkunde opgeraap terwyl Yvonne Denkewitch vir rekenaartoepassingstegnologie en Riëtte Uys vir besigheidstudies beloon is.

Kurt Kruger en Bianca Koekemoer is ook onder die top 10 in die distrik. Kruger is in die vierde plek en Koekemoer negende.

Die Skoolhoof van Waterberg High School, André Horn, met die trofee vir hoogste aantal universiteitsvrylatings. Foto: Verskaf

Drie van Hoërskool Hans Strijdom op Mookgophong se leerders het besonders presteer. Tobias Swan, hoofseun, het ‘n vakprys vir meganiese ingenieurswese ontvang en is as die beste leerder op dié gebied in die distrik gekroon. Nico Genis het ‘n vakprys vir ingenieursgrafika en ontwerp ontvang en staan ook eerste in die distrik op die gebied. Anneri Gravett, wat met sewe onderskeidings spog, het ook die top 10 ranglys gehaal.

Kurt Kruger van Hoërskool Piet Potgieter met talle trofeë tydens die Waterberg Distrik prysuitdeling.
Foto: Verskaf.

Hoërskool Piet Potgieter se leerders is Woensdagoggend verras toe die LUR vir Openbare Werke, Paaie en Infrastruktuur, Nandi Ndalane, die skool met die prestasies kom geluk wens het. Sy het die matrieks aangemoedig om vanjaar te sorg vir ‘n 100% slaagsyfer en hulle heel beste te gee.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version