Kruinie-leerkrag opgewonde vir nuwe jaar

Suandri Kotze is ‘n borrelde jong vrou met drome in haar oë

POLOKWANE – Suandri Kotze is ‘n borrelde jong vrou met drome in haar oë en sy sien volkome daarna uit om die nuwe skooljaar met al sy uitdagings aan te pak.

Sy is een van ses nuwe onderwysers wat vanjaar by Curro Heuwelkruin aansluit en sy gaan na die gr. 3-klas omsien.

“Ek is verskriklik opgewonde en sien baie uit na die jaar. Dit is my eerste pos as onderwyser,” vertel sy.

Suandri was in Modimole op skool en het na skool onderwys by die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus studeer.

“Ek wou nog altyd ‘n onderwyser wees en dit is beslis ‘n passie en roeping vir my, iets wat ek my lewe lank wou doen. Ek geniet die jonger kinders en wil graag ‘n verskil in hulle lewens maak.”

Sy vertel dat sy uit ‘n familie van onderwysers kom en dat sy die gr. 3-groep verkies omdat hulle reeds oud genoeg is om na haar te luister dog nog jonk genoeg is om nie te moeilik te wees nie.

“Ek wil graag sport doen en sien uit daarna om op die sportveld aktief te wees. My vrye tyd spandeer ek graag saam met my vriende en familie.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version