Local NewsNews

Skatlike skakelbeampte, seun trek Kaap toe

Hoërskool Pietersburg se voormalige skakelbeampte, Anna-Marie Schoeman, groet die stad na nege jaar, vir 'n nuwe beroep as Klein Boishaai (Paarl Boys Primary) se bemarker en funksiekoördineerder.

POLOKWANE – “Ons skud die bosveldstof met groot hartseer van ons skoene af, maar soos die Bybel sê, daar is ‘n tyd vir kom en ‘n tyd vir gaan. Ek het in die Noord-Kaap groot geword en wou nog altyd teruggaan Kaap toe. Ek het familie daar en as ek by my sussie, Elrina, kuier, voel dit asof ek by die huis is. Hierdie skuif is absoluut die wil van die Here.

“Ek het onlangs dié eenvoudige vraag gelees: ‘Die Here doen baie vir ons; wat gaan jy in 2018 vir Hom doen?’ Dit is my verantwoordelikheid om ‘n sukses van ons lewe in Paarl te maak, ter wille van die Here se genade, maar ook ter wille van my seun, Daniel,” vertel sy.

Met haar passie vir bemarking en kommunikasie, beskou sy elke nuwe dag as motivering om vir die sterre te reik.

“Ek is mal oor my werk en sien op ‘n Maandagoggend uit om werk toe te gaan. My rolmodel is my ma wat altyd gesê het, doen alles tot die beste van jou vermoë. Wees trots op die resultate,” vertel sy.

Sy beskou haarself as ‘n toegewyde en ‘n diepgewortelde persoon.

“Daarom is dit moeilik om my wortels uit te trek. Ek is ‘n baie lojale mens, daarom dat ek 2017 by PHS kon klaarmaak. Die lewe het my geleer om selfgedrewe te wees en jou dagtaak met waardering en verantwoordelikheid af te handel. Die lewe skuld jou niks, jy moet werk vir wat jy wil hê,” vertel sy.

Haar raad aan die skool se leerders is om die skool opreg te waardeer en die leuse van die skool in ag te neem. Sy raai ook die nuwe skakelbeampte aan om stelselmatig ‘n stap vorentoe te neem.

“Pietersburg het ongelooflike engelmense wat die Here daagliks as instrumente in ander mense se lewens gebruik. Die omgee, liefde, vertroosting en ondersteuning wat ek in 2017 van PHS- en Pietersburg se mense beleef het, getuig daarvan.

“Van PHS se leerders gaan ek al die drukkies seker die meeste mis. Personeel word by ‘n skool geplaas om ‘n verskil in kinders se lewens te maak; maar by PHS maak die leerders ‘n ewe groot verskil in die personeel se lewens. Ek gaan ook my spesiale hartsvriendinne, Wilna Potgieter en Linette Scott baie mis, maar ook al die ander vriendinne (te veel om op te noem!). En dan natuurlik die Kruger Wildtuin wat so naby is,” sluit sy af.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button