Local NewsNews

Seënwense vir die Kersseisoen

Agri-groete en Kerswense vir Limpopo-boere en lede

Agri Limpopo wens al die boere van Limpopo ‘n vreugdevolle en veilige feesgety toe.
Vanjaar was ‘n jaar vol uitdagings, maar die landbougemeenskappe regoor die provinsie het die uitdagings die hoof gebied deur samewerking en eensgesindheid. Agri Limpopo bedank graag alle lede, bedryfsorganisasies, landboubesighede en die ander landbou-organisasies soos TLU SA, Afasa en Nafu, die SAPD, staatsdepartemente en ons media-vriende vir die konstruktiewe pad wat ons kan saam loop tot voordeel van landbou in Limpopo. Mag die Kersgety ons almal opnuut herinner aan Christus se versoeningswerk aan die kruis, Vader se liefde vir ons, en die deurlopende leiding van die Heilige Gees op ons daaglikse pad.
Ons weet dat 2018 nie noodwendig makliker sal wees as die afgelope jaar nie. Ons kan ook nuwe uitdagings verwag, maar in geloof sal ons die pad na ‘n goeie landboutoekoms bly loop. Ons bede is dat 2018 vir ons almal ‘n hoogtepunt sal wees. Ons waardeer die goeie verhoudings wat reeds bestaan oor ‘n wye front. Ons koester dit. Mag dit in 2018 tot verdere hoogtes gevoer word.
Groete
Willem van Jaarsveld
Agri Limpopo Hoof Uitvoerende Beampte

Geagte mede-boere, ons Seënwense vir die Kersseisoen word jul elk toegebid.
Mag Christus en wat Hy vir ons kom offer het, voorop in ons gedagtes wees.
Mag God ‘n ieder en elk van jul beskerm in die uitdagende omstandighede ten opsigte van plaasveiligheid.
Ons gebed is dat God se wil sal geskied hier op aarde, net soos in die Hemel.
Mag Hy jul almal behoed en bewaar sodat ons weer in die nuwe jaar ons roeping as boere van Suid Afrika kan voortsit. Soos wat ons belydenis lei: Ons glo in die God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.
Boere groete,
Stefan Jacobs
Pietersburg DLU Voorsitter

Wanneer ons as boere oor die toekoms dink, wonder ons dalk of ons sal kan doen wat van ons verwag word. Dan moet ons net onthou, dis God wat ons krag gee.
In die feestyd is wanneer misdaad hooggety vier bid ons God se hand van bewaring toe aan elke gesin in hierdie feestyd. Wees paraat, maar moet nie dat misdaad ons geloof en vreugde in die geboorte van Jesus vertroebel nie.
Mag julle feesgety gevul wees met liefde, lag en saamwees en mag elke dag vir julle vreugde bring in die jaar wat voorlê.
Philippie de Beer
Potgietersrus DLU Voorsitter

Fanie Havinga van die Soutpansberg DLU wens almal ‘n welverdiende rustyd toe.
Gebruik ook hierdie spesiale tyd om weer die ware betekenis van Kersfees opnuut te oordink en dra dit oor aan almal vir wie u omgee. Leer ons kinders en dra só die ware vrede en vreugde oor aan u nageslag.
Mag die Kerstyd u versterk. Mag u vrede en rus ervaar en mag u veilig wees.

Geagte mede-boere, lede, borge en vriende, as ons as landbouers tot nou toe die terugslae en kritiek kon weerstaan, is dit die sekerste bewys dat ons wel oor die vermoë beskik om ons probleme die hoof te kan bied.
Drome alleen kan nie die verskil maak nie, maar jou ingesteldheid teenoor die lewe kan wel. Mag die Hemelse Vader ons die wysheid daartoe verleen en mag Hy ons daarin seën.
My opregte wense vir 2018 is ’n ekonomiese en volhoubare ideologiese vrye landbou beleid vir ons land. Mag daar elke dag voldoende kos op elke persoon se tafel wees en mag die landbouer die seisoene beleef soos hy of sy dit graag sal wil beleef.
Dankie vir u elkeen se ondersteuning aan ons bedryfsorganisasie, dit word raakgesien en opreg waardeer.
Dr. Henk Visser
Lompro Voorsitter

SOMS word ons eie lig uitgedoof, maar word weer aangesteek deur ‘n vonk van iemand anders. Elkeen van ons kan met diepe dankbaarheid aan iemand dink wat ons ‘n vonk gegee het om die vlam in ons weer aan te laat brand.
Die jaar het aan sy einde gekom en wat ‘n jaar! Gevul met vreugde, maar ook ‘n goeie skoot van hartseer met die weer wat skoon deur mekaar is.
My wense vir 2018 is dat ons as nasie selfrespek sal aanleer en daardeur respek vir mekaar, mekaar se eiendom en ons landswette sal hê, want slegs met die nodige respek sal ons as ‘n nasie kan groei. Mag ons nooit vergeet dat ons slegs van op ons knieë die genade van die Vader kan vra en die Vader as ons stuurwiel gebruik en nie as ‘n noodband nie.
Mag elkeen ‘n ware Christusfees saam met sy of haar geliefdes vier en mag 2018 vir almal ‘n jaar wees waar ons goeie gesondheid sal geniet, en waar daar siekte is hulle die nodige krag en genade sal ontvang om die pad te stap wat vir hulle uitgemeet is.
Mag elkeen van ons streef om elke dag voluit te leef, asof dit ons laaste is.
VLU Noord-Kersgroete.
Leanda le Cornu
President, VLU Noord

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

 

Related Articles

Back to top button