In ‘n vrouewêreld staan Corinus beslis sy man

Wanneer jy jou aftreejare binnegaan beteken dit nie jy moet onbetrokke wees in die gemeenskap nie en Corinus du Toit is ‘n sprekende voorbeeld van ‘n inwoner wat oral ‘n positiewe bydra lewer.

MOKOPANE – Hy is onlangs as die Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie aangewys. “Mense mag dalk sê: ‘hy is ‘n man’, maar dit maak nie saak nie. Ons is tans vier manlike voorsitters in Limpopo. Ek voel geëerd. Daar is ook sprake om die naam te verander na die Suid-Afrikaanse Vrywilliger Federasie i.p.v. Suid-Afrikaanse Vrouefederasie.”
Corinus, wat ook Bosveld se rubriekskrywer is, begrawe nie sy talente onder ‘n maatemmer nie. Dit kom ‘n mens gou agter as hy sy lewenservaringe deel.
Hy het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en ‘n B MIL graad verwerf, asook ‘n meestersgraad in besigheidsbestuur deur Unisa. Hy het ook die cum laude prestasie, wat op daardie stadium deur slegs agt uit 500 studente verwerf is, verower vertel hy.
“Ek is gans te jonk om nou al af te tree en is tans ‘n finansiële adviseur by Old Mutual, assosiaat by Keller Williams North Eiendomme, Voorsitter op die finansiële kommitee by Waterberg TVET College, Onderleierouderling by die Piet Potgietersrust N.G. gemeente en hanteer twee aande per week ‘n gekombineerde Afrikaans/Sepedi geselsprogram op die plaaslike gemeenskapsradio, Mokopane FM.” Hy is ook DA Voorsitter van wyk 32 en Oud-voorsitter van die Mokopane Besigheidskamer waar hy steeds betrokke is. Hy hanteer ook ‘n internetgeselsbrief, ‘Begin jou dag met ‘n lag’.
Hy gesels oor sy dae as offisier in die weermag. Op 33 jarige ouderdom is hy bevorder tot volle kolonel wat hom die jongste in die posisie in Suid-Afrika sedert die Tweede Wêreldoorlog gemaak het.
Gedurende dié tyd het hy menigte hoogtepunte bereik insluitend die ontwikkeling van ‘n oop inligtingstelsel in die destydse Oos Transvaal wat later die bloudruk vir die Suid-Afrikaanse Leër geword het.
Gebeurtenisse wat in sy lewe vir hom uitgestaan het is toe hy op 20 jaar die Namib woestyn in drie dae te voet van oos na wes vanaf Sossusvlei na Sylvia’s Hugel oorkruis het. “Ek het oorleef op drie pakkies Kokstad ‘dogbiscuits’ en 21 liter water.”
Corinus en sy wederhelfde, Maria, het drie kinders en ‘n handvol kleinkinders. Sy twee seuns, Grové en Cobus, woon oorsee. Cobus is ‘n wêreldbekende dwarsfluit professor aan die Massachusetts Universiteit in Amerika. Waar kry hy tyd vir al sy verpligtinge wou ons weet? Hy sê ‘goeie tydsbestuur’, want tussendeur al sy pligte vind hy ook tyd vir ontspanning.Hy kook graag konfyt en lê in, is lid van die Bloemhof whiskey-proeklub, skryf sketse met die klem op die komiese sy en lees vir ‘n vale.
Corinus vertel dat hy glo die lewe slegs geniet kan word as jy iets het om na uit te sien. “Een ding wat my kwaad maak is iemand op aarde wat niks het om na uit te sien nie, veral jongmense wat nog hul hele lewe voor hulle het.”
Sy lewensfilosofie het hy in sy weermagjare opgetel en hy lewe dit daagliks uit: “Elke persoon wat ek ontmoet is eerstens vir my ‘n mens en dan eers wat die lewe van hom gemaak het,” sê hy.
lionel@nmgroup.co.za

 

Exit mobile version