Local NewsNews

Rugbyveteraan por jonges se rugbydrome aan

André Hay, hoof van sport by Curro Heuwelkruin, leef nie net sy rugbydroom uit nie, maar inspireer ander om dit ook te doen.

POLOKWANE – Wanneer rugby deur jou are vloei, laat jy niks in jou pad staan om dié liefde uit te leef nie.

André het in 1999 by Hoërskool Ben Vorster by rugbyafrigting betrokke geraak waar hy tot 2003 buite-afrigter was. Daarna was hy in die rugby-afrigterpos aangestel waar hy tot 2016 sy kennis gedeel het.

“Ek het in Januarie vanjaar by Curro Heuwelkruin aangesluit en dit is vir my ‘n voorreg om deel te wees van hierdie seuns se ontwikkeling,” vertel hy.

Lees meer oor André: Kruinies verwelkom top afrigter

André het gedurende sy skooljare en ook na skool rugby gespeel tot op provinsiale vlak. Op skool was hy deel van die eerstespan, as o/20-speler het hy vir die Blou Bulle uitgedraf en as o/23-speler vir Verre Noord. By Heuwelkruin is hy by al die senior-rugbyspanne betrokke.

“Ek is baie spyt dat ek nie 15 jaar vroeër by skolerugby en -afrigting betrokke geraak het nie. Sport is een van die min, eerlike dissiplines op skoolvlak. Ek wil sien dat hier ‘n seun met respek by die hek uitloop.”

Hy sien homself meer as ‘n talentbestuurder as ‘n afrigter.

“‘n Goeie afrigter is iemand wat goeie menseverhoudings het. Jy moet eers kan luister voordat jy ‘n opinie gee of vrae vra. ‘n Goeie afrigter klim in ‘n speler se hart in en oortuig hom van wat die beste vir hom is.”

André verduidelik dat nie almal Springbok-rugbyspelers of -atlete kan wees nie, maar dat almal Springbok-mense kan wees.

“Mense gaan nooit onthou wat jy gedoen het nie maar wel hoe jy hulle laat voel het. Seuns wil net eerlikheid hê.”

Hy vertel van die positiewe uitdagings waarmee hy te doen kry en noem dat om spelers se ontwikkeling te stuur sonder om deurmekaar te raak een daarvan is.

“Dit is baie bevredigend om te sien hoe kinders vorder en groei. Jy is nie net ‘n afrigter nie, jy luister na die kind se psige en emosies.”

Selfs ouers wie se seuns al deur André se afrigterhande is, praat met groot lof van hom.

“Hy is ‘n baie goeie afrigter wat baie vir Ofentse beteken het. Ons is hom ewig dankbaar,” vertel Malesela Maubane, een van Heuwelkruin se top rugbyspelers, Ofentse, se pa.

André spandeer graag sy vrye tyd saam met sy kleinseun op die plaas.

“Rugby-afrig is net ‘n voorreg en nie ‘n reg nie,” sluit hy af.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button