Naweek se soektog na vermiste man eindig in tragiese tyding

'n Begrafnisdiens vind Vrydag (môre) vanuit die Nederduits Hervormde Kerk in Websterstraat om 09:00 plaas.

POLOKWANE – Die nuus van ‘n vermiste man, wat deur sosiale media soos ‘n veldbrand oor die naweek versprei het, het tragiese gevolge gehad toe dit aan die lig gekom het dat Jaco Smit in ‘n motorongeluk omgekom het.

Die ongeluk het op die Houtbosdorppad gebeur.

Jaco het by sy ouers, wat buite die dorp op ‘n plaas woon, gaan rugby kyk en was vermoedelik op pad terug dorp toe, toe die ongeluk gebeur het.

“Dit het Saterdag baie gereën en die paaie was nat wat tot die ongeluk kon bydra. Die nuus was ‘n groot skok vir almal,” het Paul Buitendag, Smit se swaer, aan Review gesê.

Die inskrywing op sosiale media is meer as ‘n 1 100 keer deur gebruikers gedeel, en Buitendag sê hulle is almal baie dankbaar dat die gemeenskap so gewillig was om hulle te help.

Hy vertel dat Smit baie passievol oor sy eenjarige seun, familie, vriende, en rugby was.

“Hy sou altyd help. Sy dood voel nog baie onwerklik. Ons almal sit met baie onbeantwoorde vrae,” sê Buitendag.

Smit bly al sy lewe lank in Polokwane en was by Laerskool Piet Hugo en die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé op skool.

Hy word oorleef deur sy vrou, Erica, en eenjarige seun, Jordan, sy broer Martin Smit, sy ouers Dawie en Cecilia Smit en sy twee ouma’s.

reporter03@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version