Local NewsNews

Kommer oor misdaad wat landbou bedreig

Terwyl die burgeregtelike organisasie AfriForum verlede Dinsdag ‘n memorandum oor plaasmoorde aan verskeie polisiestasies in die provinsie oorhandig het, het die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum versoek dat alle rolspelers in die rooivleisbedryf dringend ‘n aktiewe rol begin speel om veediefstal te bekamp. Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder sê in ‘n persverklaring dat memoran­dums wat die polisie …

Terwyl die burgeregtelike organisasie AfriForum verlede Dinsdag ‘n memorandum oor plaasmoorde aan verskeie polisiestasies in die provinsie oorhandig het, het die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum versoek dat alle rolspelers in die rooivleisbedryf dringend ‘n aktiewe rol begin speel om veediefstal te bekamp.
Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder sê in ‘n persverklaring dat memoran­dums wat die polisie maan om die fokus op plaasaanvalle te vestig onder meer aan stasies in Bela-Bela, Louis Trichardt, Lephalale, Modimolle, Mookgophong, Polokwane, Phalaborwa, Tzaneen en Hoedspruit oorhandig is. Al die stasies het ook volgens hom die memorandums positief ontvang.
“Plaasaanvalle en -moorde styg jaarliks en ons wil graag saam met die polisie werk om te verseker dat dít daadwerklik beveg word en prioriteit geniet. AfriForum poog om strukture, wat gemik is op die bevegting van geweldsmisdaad in dorpe en op plase, te skep en te versterk,” sê Grobbelaar.
Benewens die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum se versoek dat rolspelers ‘n aktiewe rol begin speel om veediefstal te bekamp, word die algemene publiek versoek om veeboere by te staan in die stryd teen dié misdryf.
Veediefstal het op nasionale vlak met 8,8% om onbekende redes gestyg. Dit mag weens ‘n werklike styging in veediefstalsake wees, of dit mag wees dat die slagoffers dit beter aanmeld, volgens ‘n verklaring van die forumvoorsitter, Willie Clack.
Met die feesseisoen op hande het die forum die volgende voorkomingsmaatreëls aanbeveel:
– Alle vee-eienaars moet ‘n unieke identifikasiemerk (brand- of tatoeëermerk) in hul name registreer en op alle vee in hul besit aanbring op die voorgeskrewe manier soos omskryf in die Wet op Diere-identifikasie, Wet 6 van 2002
– Die voltooiing en indiening van ‘n ‘dokument van identifikasie’ en veeverwyderingsertifikaat met alle transaksies
– Alle veekopers, afslaers, voerkrale en abattoirs moet vee-eienaarskap bevestig en weier om vee te aanvaar wat ongemerk is of waar die identifikasiedokument of veeverwyderingsertifikaat nie voorsien word nie
– Alle identifikasiedokumente moet vir 12 maande op rekord gehou word
– Vee-eienaars moet gereeld vee tel, veral ook gedurende die plantseisoen

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button