Dok Diekie sterf

Die goue jare van 'n rustiger aftrede was nie vir Diekie de Klerk (70) bestem nie.

POLOKWANE – Diekie, ‘n bekende en geliefde ortopediese sjirurg in die stad, is Sondagaand aan hartversaking in die Wilgers Hospitaal in Pretoria oorlede.

Hy sou vandag, 30 November, sy laaste dag gewerk het, waarna hy en sy vrou Karin, met wie hy 38 jaar gelede getroud is, na Kaapstad sou verhuis.

Limpopo Mediclinic sou Vrydagaand (môre) vir hom ‘n afskeidsfunksie hou. Hy is egter twee weke gelede in die Wilgers Hospitaal opgeneem.

‘n Kollega, dr. Hugo van Rensburg, het vir baie jare as narkotiseur elke Maandag en Donderdag saam met Diekie in die teater, asook tydens noodgevalle, gewerk.

“Diekie se werk was vir hom baie belangrik en hy het dit geweldig geniet. Behalwe vir sy gesin en sy broodbome, was dit sy passie. Hy was baie toegewyd en hardwerkend, hy was ‘n besige man wat nooit nee kon sê as iemand hom iets gevra het nie. Sy afsterwe was ‘n skok en gaan ‘n groot leemte in die gemeenskap en by sy pasiënte laat. Ons gaan hom baie mis.”

Hy onthou hoe Diekie talle dokters help oplei het by die Groothoek Hospitaal, en die ou dae toe hulle by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal saamgewerk het voor Limpopo Mediclinic oopgemaak het, “he was quite a character”.

“As narkotiseur het Hugo amper meer tyd saam met Diekie spandeer as ek,” spot Karin, wat ook as Diekie se praktykbestuurder opgetree het. “Diekie het sy werk so geniet, hy wou nie ophou nie.”

Die De Klerk-gesin woon reeds 37 jaar in Polokwane en Diekie laat vyf kinders na, Minette, Elzanne, Ruan, Mischa en Kitha, hul gades, vier kleinkinders, en vriende. “Daar is nog twee kleinkinders op pad,” vertel Karin, “en nou sal Diekie hulle nooit sien nie”.

Diekie was lief vir die natuur en jag, en het graag in die Polokwane Wildreservaat gaan stap.

Sy sal hom onthou vir baie dinge: “Sy blou oë wat tot diep in ‘n mens se siel kon kyk, sy nederigheid as mens, sy liefde vir alle mense en die wonderlike voorbeeld en inspirasie. Hy het almal se menswees gerespekteer.”

Met ‘n lag en ‘n traan vertel sy dat, toe die kinders op skool was en hulle moes vertel wat hulle pa doen, sou hy altyd vir hulle sê hy is ‘n “bone mechanic”.

Diekie het in 2012 ‘n operasie ondergaan om ‘n foutiewe hartklep te behandel. “Die laaste vyf jaar was hy vir my geleen,” sê ‘n dankbare Karin. Sy sal, na hul sake hier afgehandel is, Kaap toe verhuis en hoop om al haar kinders mettertyd daarheen “te lok”.

Die gesin bedank alle vriende, familie en kollegas vir hul hulp en bystand in die tyd. ‘n Diens om Diekie se lewe te vier sal Vrydagmiddag om 15:00 by die gesin se woning deur pastoor Corné van Niekerk van die Agapé gemeente gelei word.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version