Local NewsNews

Herinneringe kosbaar deur haar vasgelê

Of dit nou leer, hout, verf of vere is - Ronelle White se besondere kunstalent word regoor die land bewonder

MOKOPANE – Hier op Mokopane het sy ook onlangs groot vreugde gebring met haar veer- en sketswerk.

Bosveld se ontvangsdame, Juaditta Lasagni, vertel hoe haar paaie met dié van Ronelle gekruis het.

“My geliefde hond, Tasha is onlangs dood. Dit was vir my ‘n groot hartseer totdat ek een aand vir Ronelle op die televisieprogram Kwêla gesien het. Ek het net geweet sy sal Tasha en ook my troetelduif in skildervorm kan vasvang. Ek het haar dadelik gekontak en sy het ingestem.”

Kort daarna het Juaditta twee pragkunswerke ontvang wat ‘n groot glimlag op haar gesig gesit het.

Na die Foxterriiër, Tasha se dood het Ronelle die prag potloodskets gemaak.

Bosveld het meer gaan uitvind oor dié talentvolle kunstenaar wat verskeie mediums gebruik om haar talent uit te stal.

Ronelle, wat op Phalaborwa woon, vertel sy het ‘n sterk aangebore kunstalent en was van kindsbeen af lief vir skets.

Haar pa, Jan Nezar, was ‘n bekende kunstenaar. “My kuns word geïnspireer deur my liefde vir die natuur. Die natuur is die skepping en dit is vervolmaak. Ek geniet al die verskillende mediums waarin ek werk. In die negentigerjare het ek met verfkwasse begin eksperimenteer.”

Ronelle sê sy het die eer gehad om ‘n paar illustrasies in die boek Van Aardvark tot Zebra te doen en het ook al bekende kunstenaars op doek vasgevang.

In ‘n meer onlangse werk het sy Riaan Cruywagen se hond, Worsie, op ‘n veer geskilder.

Riaan Cruywagen se hond, Worsie, is verewig op ‘n veer.

“Kort daarna het Kwêla se span my gekontak vir ‘n onderhoud. Dit was ‘n groot verrassing en ek was baie opgewonde.”

Ronelle sê sy geniet die kuns wat sy op ‘n veer doen baie. “Dit is uitdagend en die reaksie van mense is belonend. Die meeste mense kies iets besonders en uniek en die vere is beslis anders.”

Haar paletkuns is ook gewild en word gewoonlik in ‘n kroeg of lapa uitgestal met ‘n gekose dier wat uitgebeeld word.

Die sleutelhouers met die fynste veertjie is hoogs in aanvraag, veral onder oorsese besoekers en diegene wat op soek is na ‘n spesiale geskenk vir iemand. Ronelle verf ook op volstruis- hoender- en vinkeiers.

“As ek akkediseiers in die hande kon kry, sal ek graag daarop wil werk. Ek verf ook op houtstompe en leer. ‘n Mens kan ‘n spesiale stuk hout waarvan jy hou so mooi verf dat dit ‘n pragtige kunswerk word. Die leerwerk word geraam met pale en riempies wat dit besonders maak. My man maak al die rame en is my steunpilaar.

Ons gebruik meestal herwinbare hout, want dit is meer omgewingsvriendelik.”

Mense wat meer oor Ronelle se kunswerke wil weet, kan haar gerus kontak by 083 389 2948 of besoek haar Facebookblad: Ronelle White Art.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button