Local NewsNews

Jong Mokopane oogarts gewelddadig in slaapkamer aangeval

Marno Oosthuizen (23), is vroeg Maandagoggend in sy woonstel oorval en aangerand.

MOKOPANE – Oosthuizen huur ‘n woonstel by die Combrink-gesin wie se huis aan die woonstel grens. Willie Combrink sê Oosthuizen is vermoedelik om 03:00 in sy slaap oorval en in sy bed aangerand waar hy sy bewussyn verloor het. “Hy het sy bewussyn weer teen 04:00 herwin en die paniekknoppie gedruk.”

Marno Oosthuizen (oogarts) tydens sy gradepegtigheid verlede jaar.

Volgens Combrinck was dit vir hom ‘n skok toe hy 05:00 ‘n oproep van sy bure ontvang. “Corne Shamrel het my gebel en gevra of alles in orde by ons is omdat ons erf wemel van polisie, noodpersoneel en sekuriteit.”

Volgens Combrink het hy gaan ondersoek instel en toe uitgevind Oosthuizen is in sy woonstel aangeval en die ambulans is met hom oppad na die Limpopo Mediclinic toe. “Volgens ons bure het die honde vreeslik tekere gegaan. Ek vind dit baie vreemd dat nie ek of my vrou iets gehoor het of wakker geword het nie. Ek slaap baie lig en word vir die geringste geluid wakker.”

Combrink sê Oosthuizen se ouers het dadelik van Standerton af deurgekom om hom by te staan. Oosthuizen se neus en wangbene is gebreek en sy oogbanke gekraak.

Die bebloede bed waar hy in die oggendure aangeval is.

“Ons is baie dankbaar dat daar geen breinskade is nie. Marno het net ligte harsingskudding. Hy is Dinsdag ontslaan en sterk tans by sy ouers in Standerton aan.”

Volgens Dorette van der Horst, Bestuurder van Spec-Savers, het Oosthuizen vier maande terug Mokopane toe verhuis en by dié saak as ‘n oogarts begin werk. “Toe ek en dr. Hendrik Swanepoel van Marno se aanval in kennis gestel is, het ons dadelik deurgery na die hospitaal. Marno was by sy positiewe en helder van verstand. Ons glo Marno sal nie permanente skade hê nie en wens hom ‘n spoedige herstel toe.”

‘n Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer is by die polisie aanhangig gemaak en die ondersoek duur voort.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button