Local NewsNews

‘Silence is golden’ vir Tobi Jooste

Tobi Jooste is ‘n jong operasanger wat die stad Woensdagoggend vir ‘n damestee, gereel deur die Kankervereniging van Suid Afrika (Kansa), besoek het.

POLOKWANE – Review het voor sy optrede die geleentheid gehad om hom ‘n bietjie beter te leer ken.

Tobi is gebore in Victoria-Wes en het sy skoolloopbaan aan die Paarl Gimnasium voltooi. “Ek was in ‘n klein laerskool en moes drie jaar wag vir ‘n juffrou om my te leer klavier speel. Ek het eers geleer hoe om klavier te speel voordat ek geleer het hoe om te sing,” vertel hy.

Na skool het hy aan ‘n talentkompetisie in Hartenbos deelgeneem en as wenner van die kompetisie het hy die geleentheid gekry om saam met Mej. Hartenbos op te tree.

“Die optrede was voor ‘n gehoor van om en by 2 000 mense. Om te sing is werklik my passie.”

Tobi skryf min van sy eie musiek, maar vertel dat hy lief is om boeke te skryf. “My tweede boek, Daar is ‘n Eiffeltoring in sy boedel, is ‘n top verkoper en is al in sy derde druksiklus. Gee vir my ‘n tema en ek skryf vir jou ‘n boek. Ek is baie lief vir lees en vir boeke en is ook die boekredakteur van die Bloss Tydskrif.”

Hy vertel dat hy homself meer as ‘n minnesanger sal ag en dat hy graag liedjies uit die vyftigerjare sing. “Ek sing musiek van lank gelede en kan in sewe tale sing, onder andere Spaans en Italiaans. Ek het geleer om die tale foneties te verstaan wat dit vir my makliker maak om daarin te sing. Ek het daarby ook sewe jaar se opera-opleiding gehad.”

Tobi sê sy ouma was sy grootste aanhanger en het hom altyd vertel hy moet netjies lyk wanneer hy optree. “Haar woorde aan my was dat mense betaal om my te sien sing en dus mag ek nooit met ‘n jean op die verhoog verskyn nie. Sy het ook altyd vir my gesê as jy op die verhoog stap is dit soos om in ‘n kerk in te gaan, jy is verhewe, mense kyk op na jou. ‘Hulle moet beter voel as hulle van jou vertoning wegstap’. Ek hou daarvan om mense te inspireer, dit is ook iets wat ek met my boeke probeer doen.”

Hy vertel dat hy gebore is om te reis en dat hy baie nuuskierig is. “Ek reis graag na ander lande en was al ‘n paar keer in Balie. Dit is vir my lekker om daar met die inwoners te kuier en meer oor hulle kultuur te leer. Alhoewel ek ‘n bekende sanger is, is ek nie lief vir die kollig nie, ek sukkel om my bekendheid te hanteer en hou glad nie daarvan nie. Ek wou nooit bekend gewees het nie, ek wou bloot net sing omdat dit my passie is en ek wil nie hê mense moet my daaroor as ‘n rolmodel ag nie.”

Behalwe vir sy sangloopbaan, is Tobi ook ‘n besigheidsman met ‘n maatskappy wat produkte vervaardig vir gebruik in Afrika.

Iets wat min mense van Tobi weet is dat hy drie jaar gelede elke TV-stel uit sy huis verwyder het en algehele stilte in sy huis handhaaf omdat hy stilte hoog op prys stel. Daarby onthaal hy graag en geniet dit om vir vriende kos te maak.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button