Bekende in Limpopo-landboukringe sterf

Jan Viljoen, wat van 2008 tot 2011 streekvoorsitter van TLU SA Noord was, is verlede Dinsdag na ‘n kort siekbed oorlede. Henk van de Graaf, huidige streekvoorsitter van TLU SA Noord, sê in ‘n mediaverklaring dat Viljoen ook lid van TLU SA se nasionale uitvoerende komitee was en lank die voorsitter van Noordstreek en TLU …

Jan Viljoen, wat van 2008 tot 2011 streekvoorsitter van TLU SA Noord was, is verlede Dinsdag na ‘n kort siekbed oorlede.
Henk van de Graaf, huidige streekvoorsitter van TLU SA Noord, sê in ‘n mediaverklaring dat Viljoen ook lid van TLU SA se nasionale uitvoerende komitee was en lank die voorsitter van Noordstreek en TLU SA se komitee oor plaaslike regering. “Hy het die portefeuljes met absolute bekwaamheid en toewyding hanteer. Sy grootste werk was die betreklik onlangse deurvoering van die bedinging van ‘n beter grondbelastingkoers vir boere. Daarbenewens was hy ook ‘n kundige in mynregte en prospektering.”
Volgens Van de Graaf het Viljoen op plaaslike vlak diep spore getrap en was hy tot met sy sterfte die voorsitter van die Thabazimbi Distrik Landbou-unie (DLU) en Sentrum Boerevereniging (BV). “Dit is duidelik dat landbou, in Limpopo en nasionaal, armer is met sy heengaan en sy kundigheid en ywer ‘n groot leemte sal laat,” sê Van de Graaf. “TLU SA Noordstreek, Thabazimbi DLU en Sentrum BV betreur sy heengaan en wens sy familie sterkte toe met hulle verlies.”
Hy laat sy vrou, Petro, drie seuns en vyf kleinkinders agter. ‘n Gedenkdiens is Maandag in die NG Kerk Thabazimbi gehou.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Exit mobile version