Local NewsNews

Uniq Tutor: ‘Ek sal vir die kinders baklei’

Die Uniq Tutor sentrum vir kinders met leerprobleme is in nood.

MOKOANE – Leandri Burke, onderwyseres en eienaar van Uniq Tutor Sentrum sê van die kinders kom uit behoeftige huise.
“Sommige ouers kan nie bydra tot die skoolfonds nie.
“Vir my gaan dit nie net oor geld nie, ons beywer ons vir die onderrig van die kinders en is dit ons passie.
“Die kinders sal nie aanpas by gewone skole nie en sal verlore gaan sonder enige onderrig,” vertel sy.
Volgens Burke is daar in die sentrum kinders wat outisties is, diegene met kompulsiewe versteuring, ook die wat disleksie het en leerders wat met individuele aandag, beter presteer.
“Die werklikheid is dat ek al my aandag en liefde in die sentrum en kinders stort, maar dit betaal nie elke maand die skool se uitgawes nie.
“Ek moes die moeilike besluit maak, my trots in my sak steek en my hand noodgedwonge uitreik na die publiek en in hulle oë kyk vir bystand.
“Dit is vir my moeilik en breek my hart, maar ek sal vir die kinders baklei.
“Hulle het ‘n reg tot onderrig.”
Burke sê die sentrum kry geen finansiële hulp van die staat nie.
“Daar is nie ‘n tekort aan werk nie, ek kry daagliks verwysings van skole en die publiek en daar is ‘n noue verband tussen die sentrum en SAVF. Ons probleem is egter nie getalle nie, maar spasie.
“Ons het dringend ‘n groter sentrum nodig met ten minste twee aparte klasse vir die juniors en seniors en ‘n kombuis waar ons kos kan voorberei vir die behoeftige kinders.”
Corné Els, onderwyser, sê: “Dit is vir my ontstellend as ‘n kind in jou oor kom fluister nog voor die dag begin het: ‘Juffrou ek is honger’”.
Els sê sy weet ‘n kind kan nie op ‘n leë maag leer of konsentreer nie.
“Ontbyt is immers jou belangrikste ete. Ons het mammas wat ekstra broodjies inpak vir die kind wat nie het nie, maar ons behoefte is om twee keer ‘n dag vir die agt behoeftige kinders ‘n toebroodjie en ‘n vrug of twee te kan gee.”
Els sê hulle sal alles doen om die skool se deure oop te hou.
“Burke het dit goedgedink om ook Marcelle Maritz, Limpopo Vryheidsfont Plus  Leier, na die sentrum te nooi vir ‘n besoek.”
Maritz het aan Bosveld gesê die Vryheidsfront Plus sal alles in sy vermoë doen om bystand te bied om borge of finansiële hulp te kry vir die sentrum.
redaksie.bosveld@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button