Bosveld NewsNews

Plaaslike onnie tydens drafsessie oorval

Ilze sê die voorval spook na twee dae steeds by haar.

MOKOPANE – “Ek was histeries en het probeer sin maak van alles. As ek nie gegil het nie, sou die mense in hulle erwe of in hulle voertuie my nie gehoor het nie.”

Só vertel Ilze Malan, gr. 12- Graadhoof van Hoërskool Piet Potgieter, nadat sy Maandagaand tydens ‘n drafsessie deur twee jong mans oorval en van haar selfoon beroof is.

Ilze sê die voorval spook na twee dae steeds by haar. Sy het om 17:30 soos elke ander aand in die Chroompark woonbuurt gaan draf.

“Ek hardloop die afgelope ses jaar dié roete. My man ken dit en weet dus hoe laat ek tuis sal wees. Dit neem so 50 minute. Ek het my oorfone aangehad en besef nou dit was ‘n fout. In Platinastraat het iemand my skielik van agter gegryp. Sy hande was om my nek en hy het probeer om my mond en oë toe te druk. Ek het probeer om sy hand te byt en my gille is deur inwoners in die omtrek gehoor. Daar was ook een voor my wat my hande geruk het. Hulle het my na die oop stuk veld langs die APK kerk gesleep en my foon gevat. Ek het gesien hoe die bestuurder van ‘n wit bakkie wat verby gery het, rem trap en agteruit beweeg. Dis toe dat die mans my los en weghardloop.”

Volgens Ilze het nog twee bakkies opgedaag en die bestuurders het gehelp om die mans te probeer vastrek wat die bosse in Pretoriusstraat ingevaar het. Die inwoners in die omgewing was gou daar en Suricat het kort daarna opgedaag, maar die twee skurke was reeds weg.

Sy besef nou sy het die twee mans gesien toe sy haar roete begin draf het. “Hulle het my toe definitief agtervolg. Ek het geglo dit is die veiligste area om te draf. Ek sal nie weer alleen gaan draf of stap nie, dit is te gevaarlik. Ek besef nou hoe erg dit moet wees as bejaardes oorval en aangerand word. My lyf en mond is nog seer en die hele gedagte aan die gebeure maak my angstig en laat my in vrees. Voortaan sal ek maar binne ‘n gimnasium gaan oefen.”

Ilze het ‘n Dinsdag ‘n saak van diefstal by die polisie oopgemaak. Intussen gons dit by die skool en op sosiale media en sportleerders sê openlik hulle is na dese te bang om hulle oefenklere aan te trek en die strate in te vaar. Ilze bedank almal wat haar bygestaan het.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button