Local NewsNews

Swart Maandag-organiseerder staar aanklag in gesig

James van den Bergh, organiseerder van die Swart Maandag-protesoptrede in Polokwane waar boere en gemeenskapslede op die N1-suid buite die stad as deel van ‘n nasionale protes teen plaasmoorde vergader het, sal na verwagting môre in die Polokwane landdroshof op ‘n aanklag van die organisering van ‘n onwettige byeenkoms verskyn. Van den Berg het Dinsdag …

James van den Bergh, organiseerder van die Swart Maandag-protesoptrede in Polokwane waar boere en gemeenskapslede op die N1-suid buite die stad as deel van ‘n nasionale protes teen plaasmoorde vergader het, sal na verwagting môre in die Polokwane landdroshof op ‘n aanklag van die organisering van ‘n onwettige byeenkoms verskyn.
Van den Berg het Dinsdag by die Westenburg polisiestasie aangemeld nadat hy van die klag teen hom verwittig is. Provinsiale polisiekommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo, het bevestig dat hy aangekla en gewaarsku is om in die hof te verskyn. Hy is nie gearresteer nie.
Van den Bergh, vergesel van die Nasio­nale Konserwatiewe Party se provinsiale leier, Valerie Bylieveldt sê die byeenkoms was in sy geheel wettig.
“‘n Mens het nie toestemming vir ‘n samekoms in eerbied vir boere wat in plaasaanvalle vermoor is, nodig nie. Ons het geen wette verontagsaam nie. Dit was nie ‘n optog nie en enige mens kan homself indink dat ‘n redelike opeenhoping kan plaasvind wanneer ongeveer 300 voertuie van een punt af vertrek. Ons het geen paaie versper of verkeersreëls verontagsaam nie,” sê hy.
Dit volg nadat boere, gemeenskappe en selfs leerders van die provinsie Maandag buite die stad bymekaargekom het om bewusmaking oor dié kommerwekkende misdaad te skep.
Van den Bergh het tydens die samekoms gesê die doel is nie net om bewusmaking te skep nie, maar ook om te rou oor boere wat tydens plaasaanvalle gesterf het.
“Ons is moeg daarvoor dat boere, maar ook ander mense, koelbloedig vermoor word. Die samekoms bestaan nie net uit boere nie, maar ook inwoners van verskeie dorpe wat die inisiatief ondersteun.”
Die groep het in ‘n konvooi deur die middestad na verskeie bestemmings gery. Swart klere, kruise en plakkate het die optog deur die strate gekenmerk. Van den Bergh sê vreedsame optogte is regoor die provinsie in onder meer Lephalale en Settlers gehou.
Selfs leerders van Hoërskool Pietersburg (PHS), Pietersburg Laerskool en Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane het aan dié inisiatief deelgeneem.
PHS-leerkragte het in swart skoolgehou en leerders van Suidskool het hul skooluniforms vir swart T-hemde verruil. Die leerders het alle boere in gebed opgedra.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

‘n Konvooi ry deur die stadstrate.
Leerders van Suidskool bid vir boere in Suid-Afrika.

Related Articles

Back to top button